Agter die skerms saam met Marion Holm
Review Online het met bekende aktrise en regisseur Marion Holm gesels voor haar vertoning in Polokwane.
POLOKWANE – Sedert 2004 het Marion Holm al talle mense se maagspiere gekielie en vir skatterlag gesorg met haar eenvrou-vertonings.
Voor haar onlangse vertoning van Holmruggery in Polokwane, het Review Online by haar gaan inloer om te gesels oor haar jarelange betrokkenheid in die vermaaklikheidsbedryf.
Lees ook: [FOTO’S] Marion Holm kielie die maagspiere in Polokwane
Sy het haar debuut in 1986 gemaak en intussen ‘n verskeidenheid uiteenlopende rolle op die verhoog en voor die kameras vertolk. Marion was al te sien in meer as 60 teater produksies, 20 televisie verskynings en 20 produksies en vertel haar mees uitdagendste vertoning was ‘n Engelse teaterproduksie.
“Ek het pas uit universiteit gekom en het een van die hoofrolle gespeel. Ek het teenoor ‘n briljante akteur gespeel en dit was vir my baie spanningsvol en moeilik.”
Geen spesifieke verhoogoptrede staan vir haar uit nie, maar sy noem sy was bevoorreg om deel van die destydse streeksrade te kon wees. “Destyds het ons aan streeksrade, soos Kruik (Kaapse Raad vir die Uitvoerende Kunste) en Sukovs (Streeks Uitvoerende Kunsteraad van die Oranje-Vrystaat), behoort. Ons het elke aand in ‘n produksie gespeel en as permanente lid het ons ‘n salaris verdien. Dit was ‘n voorreg, want ons kon enige rol speel. Sonder hierdie geleentheid sou ek nie een rol gehad het nie want ek is ‘n introvert en die geleenthede wat ek gekry het, was omdat ek aan ‘n toneelgemeenskap behoort het.”
Daar is een rol wat Marion na aan die hart lê en dit is die rol van Liewe Heksie wat sy in 1990 vertolk het. “My grootste droom was nog altyd om Liewe Heksie te speel.”
Marion vertel teater- en televisiewerk het beide voor- en nadele. “As ek tussen dié twee moet kies, kies ek teater. Teater is meer uitdagend aangesien jy nie ‘n fout kan maak en dan oorbegin nie. Ek is trots op my vaardigheid om teater te kan doen.”
Marion sê gesondheid is vir haar belangrik en in haar vertoning, Holmruggery, vertel sy van haar ervarings met onder andere joga en wateraërobiese oefeninge. Talle aanhangers kan met Marion vereenselwig tydens dié vertoning en dit prikkel die lagspiere. “Om te lag is baie belangrik. Jy moet jou sin van humor behou, veral wanneer dinge moeilik gaan.”
Lees meer oor Marion in die Polokwane Observer.




