Kommer skop in oor suurstof as die krag afgaan
Review het met verskeie instansies in die stad gesels oor die uitdagings wat hulle tydens beurtkrag in die gesig staar.
POLOKWANE – Eskom het verlede week weer beurtkrag ingestel.
Aanvanklik is Fase 2 beurtkrag aangekondig, maar twee dae later het die kragvoorsiener beurtkrag verhoog na Fase 4. Fase 4 beurtkrag beteken inwoners is geskeduleer vir beurtkrag 12 keer oor ‘n tydperk van vier dae vir twee ure op ‘n slag of 12 keer oor ‘n tydperk van agt dae vir vier ure op ‘n slag.
Alhoewel daar roosters en selfoontoepassings is wat die tye van beurtkrag aandui, word daar dikwels, soos verlede week, op kort kennisgewing van beurtkragfases verander. Hierdie veranderings belemmer dus inwoners se beplanning om van alternatiewe kraghulpbronne gebruik te maak.
Beurtkrag wek ook kommer vir diegene wat van suurstofmasjiene gebruikmaak en dus het Polokwane Review met instansies in die stad gesels oor hierdie uitdaging.
Lim-CareWell se bestuurder, Corné Marais, sê meeste pasiënte kan sonder suurstof gaan vir tot twee ure. “Ons het tans geen pasiënte wat suurstofmasjiene benodig nie, maar sou dit nodig raak het ons ‘n kragopwekker. Dit gaan egter in ‘n ander krisis ontaard aangesien ons ten duurste petrol sal moet aankoop. Wat ons meer bekommer is wanneer daar nie altyd by die skedule gehou word nie en die oorskakel tye dan nie reg is nie. Dan kan ons nie goed beplan nie.”
By SAVF sê die bestuurder, Mariette Coetzee, hulle het ‘n man gehad wat van ‘n suurstofmasjien gebruikgemaak het en dat sy kinders ‘n kragopwekker moes aanskaf. “Hulle moes ook die elektrisiën betaal om die installering te doen. Die man is ongelukkig intussen oorlede en al is dit nie die ideaal nie, kan ons inwoners wat ‘n suurstofmasjien gebruik, vir twee of drie ure sonder dit klaar kom. Ons is besig om geld in te samel om ‘n kragopwekker aan te skaf en dan twee van ons mediese kamers in te rig om deur die kragopwekker aangedryf te word as beurtkrag inskop.”
Ons Tuiste verpleër Carina Kearns sê: “Wanneer die krag vir net twee ure af is, kan ons inwoners nog oorleef. Indien kragtoevoer vir langer as twee ure onderbreek word, moet ons die kragopwekker aansit wat ‘n groot uitgawe is aangesien petrol so duur is. Ons het gelukkig nie nou ‘n inwoner wat van suurstof afhanklik is nie.”




