Mikyla is opgewonde om skool te kan hervat
Die 13-jarige Mikyla Verreynne, wie se breinfunksie op die vlak van 'n vierjarige is, is opgewonde om terug skool toe te gaan.
POLOKWANE – Met ‘n vrolike gebaar groet die 13-jarige Mikyla Verreynne toe sy my sien.
Op die oog af lyk sy soos enige ander kind van daardie ouderdom.
Mikyla se eerste paar familiejare was egter wispelturig, met net haar ma, Natasha Adlem, aan haar sy. Ma en dogter het in Hotazel gewoon en dit is hiér waar Mikyla deur verskeie terapeute en dokters ondersoek is.
“Ek het haar na ‘n spraakterapeut geneem aangesien sy nie behoorlik kon praat nie. Sy het ook vir ‘n paar sessies by ‘n arbeidsterapeut gegaan. Sy kon op sewejarige ouderdom niks vir haarself doen nie. In Hotazel was sy in ‘n hoofstroomskool, maar die kinders het haar gespot omdat sy skeel is. Ek het besluit om haar uit die skool te haal en by die huis te onderrig.”
Hulle het in 2018 teruggetrek na Polokwane en Natasha is in dieselfde jaar weer getroud. Mikyla was in ‘n privaatskool in Polokwane, maar na drie jaar kon Natasha egter nie meer die skoolgeld bybring nie.
“Intussen is sy gediagnoseer met outisme, AGHS, disleksie, en haar brein is op dieselfde vlak as dié van ‘n vierjarige. Sy was weer in ‘n hoofstroom skool geplaas, maar nadat ek my werk verloor het, kon sy nie teruggaan skool toe nie. Sy word by elke skool gespot oor haar oë en het ‘n lae selfbeeld.”
Natasha het onlangs plek vir Mikyla in Generaal Piet Joubert gekry en met die hulp van vriende het Mikyla alles wat sy nodig het vir die nuwe skool behalwe vir ‘n hoed en baadjie.
Mikyla, wat net gr. 3 voltooi het, is opgewonde om terug skool toe te gaan. Sy is lief daarvoor om met mense se hare te speel of haarself met Natasha se ou grimering mooi te maak. Sy speel graag met die honde en hou ook van teken. Sy is die enigste kind en maak nie maklik vriende nie, vertel haar ma.
“Ek hoop maar om ‘n beurs by die skool te kry want ek kan nie die skoolgelde bybring nie. My man was ook onlangs in ‘n botsing met die kar betrokke, so ons het hulp nodig om Mikyla skool en huis toe te karwei.”
Inwoners wat finansieel wil bydra kan gaan kyk na waar Natasha ‘n Backabuddy-rekening geskep het.




