Local NewsSchools

Nuwe hoof met nuwe woema sluit by die HPP-familie aan

Ben Habig is opgewonde om die nuwe geleentheid met albei hande aan te gryp en om die skool in die beste belang van die leerders te bevorder.

MOKOPANE – Die nuutaangestelde skoolhoof van Hoërskool Piet Potgieter, Ben Habig, sê dié aanstelling was vir hom ‘n absolute sprong in geloof.

“Ek is dankbaar vir die geleentheid wat ek gekry het. Alhoewel ek vir 17 jaar in ‘n gemaksone gesit het waar alles goed verloop het en ek byna gereed was vir aftree, het ek nou weer nuwe woema gekry.”

Hy sê dis voorwaar ‘n voorreg om deel te wees van die plaaslike gemeenskap.

“Ek is baie opgewonde om hande te vat en die bal aan die rol te kry. Ons moet mekaar ondersteun en in belang van die kinders optree. Ons moet die kinders help om ‘n toekoms te bou. Hulle is ons toekoms.”

Habig is in Bethal, Mpumalanga, gebore.

Hy het sy laerskoolloopbaan hier voltooi en in 1985 aan die Hoërskool Hoogenhout gematrikuleer.

Onderwys was altyd vir hom ‘n passie en hy het na skool by die destydse Onderwyskollege in Potchefstroom aangesluit.

Na hy graad gevang het, het hy eers ‘n draai in die weermag gemaak voor hy sy onderwysloopbaan kon voortsit.

Sy eerste onderrigpos was by Hoërskool Sarel Cilliers in die Vrystaat.

“Die skool is op ‘n baie klein dorpie, naamlik Koppies. Vandaar is ek vir ‘n jaar Mafikeng toe waar ek skoolgehou het by ‘n privaat instansie. Daardie tyd was dit die enigste internasionale skool in Afrika.”

Hy voeg by dat dit ‘n wonderlike skool met wonderlike geriewe was.

Soos dit in die onderwys gaan het hy na ‘n ruk gevoel dis tyd om sy vlerkte te sprei.

Hy het vervolgens die aanstelling by Hoërskool Fochville as adjunkhoof gekry en twee jaar later is hy aangestel as hoof van Laerskool Fochville waar hy vir 17 jaar die pos as hoof beklee het.

Sy hoogtepunte deur die jare was beslis die matrieks geografieuitslae in 1995 en in 2002.

“Dit laat jou hart warm klop om te sien hoe die kinders presteer.”

Habig verduidelik dat sy tyd vir ‘n uitdaging gekom het met die aanstelling by Hoërskool Piet Potgieter.

“Vandag is ek in hierdie wonderlike dorp van Mokopane met sy oulike mense. Piet Pot is ‘n geweldige aktiewe skool, dit maak my net soveel meer opgewonde om deel van die skool te wees. Hier is waardevolle personeel, hulle is betrokke en aktief. Hier is waardes en disipline.”

Om ‘n verskil te maak, was nog altyd deel van sy mantra, verduidelik hy: “Waar ek ook gegaan het, het ek probeer om ‘n verskil te maak, en hier by die blou masjien is soveel kennis wat ontgin moet word”.

“Dit is ook my visie, en ek hoop ek kan saam met die personeel, ouers en kinders ‘n verskil maak by Piet Pot. Ek glo in spanwerk en ek wil die blou masjien se wiele geolie hou.”

In die kantoor sit en “grotkoors” kry is beslis nie vir hom nie, sê hy.

“My missie is om saam met die span, HPP weer op te bou dat dit weer die leidende skool in die omgewing is.”

Hy nooi die gemeenskap uit om te kom groet, “almal is welkom en as daar leerders is wat wil terugkeer sal hulle met ope arms verwelkom word”.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button