Polokwane sal hulle nooit kan vergeet nie, sê inwoners
Nadat die hartseer nuus van die oud-Pieties se dood bekendgemaak is, het medelye aan hulle families ingestroom.
POLOKWANE – Teen opstaantyd Sondagoggend kry die stad die nuus van die afsterwe van oud-Pieties, Odine Swanepoel (19) en susters Janke (19) en Lize Coetzer (16) in ‘n motorbotsing in die Noordkaap die vorige aand.
Odine en Janke was eerstejaarstudente aan die Universiteit van Noordwes se Potchefstroomkampus en Lize ‘n gr. 10-leerder aan die Hoërskool Diamandveld in Kimberley.
Al drie was oud-leerders van Hoërskool Pietersburg.
Die drie meisies het saam met twee ander jongmense op die N18 tussen Jan Kempdorp en Hartswater gery, toe hulle in ‘n trompopbotsing betrokke was.
Die twee ander insittendes het beserings opgedoen en is na ‘n hospitaal geneem vir behandeling.
PHS se skakelbeampte, Elmari Craig het Odine as ‘n “sterleerder” beskryf.
“Sy was altyd baie entoesiasties, ‘n borrelende omgeemens. Sy was briljant in netbal en betrokke by alles by die skool. Sy het alles voluit gedoen.”
Die Coetzer-susters was leerders aan PHS tot en met 2020 waarna die gesin hulle in die Noordkaap gevestig het.
Op sosiale media stroom die medelye in.
‘n Vriendin van Odine, Marzelle Luus, skryf hoe sy Odine se glimlag gaan mis: “Ek gaan jou glimlag mis. Ek gaan jou liefde en omgee mis. Ek gaan jou sprankelende persoonlikheid mis. Ek gaan jou menswees mis.”
Janke en Lize was voorheen atlete by Deon Jewaskiewits en ook hy het sy medelye op sosiale media betoon.
“Ons gaan julle mis, Janke en Lize. Ons is lief vir julle en julle sal altyd in ons harte wees. Ons sal en kan julle nooit vergeet nie. Die herinneringe bly, blomme mag verwelk, plante mag vrek, vriende mag vergeet, maar ons sal nooit nie. Rus in vrede, my twee atlete.”
Pietersburg Laerskool, waar Odine haar laerskoolloopbaan voltooi het, het gesê hulle gebede gaan saam met elke gesin want “die meisies los ‘n groot leemte en sal baie gemis word”.
Een van Odine se vriendinne en netbalspanmaats van 2021, Ruvé Erasmus, het met ‘n swaar hart Maandag haar eerste Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen geskryf.
Op Facebook skryf haar ma, Lizelle Erasmus: “Ai, liefste Odine, jy en Ruvé was soos kettie en klip, dieselfde lawwigheid, altyd vol grappies en giggels. Ons het so uitgesien na jou kuier in Hartenbos. Ruvé gaan vir seker jou vinnige oplaai vir MacFlurries en julle harte uitpraat mis. Dankie vir dit wat jy vir Ruvé beteken het, as netbalspeler en vriendin. Rus sag by Jesus se voete, liefste Odine. Baie sterkte Lena-Marié en Jacques. Ons woorde is min en ons harte in stukke saam met julle.”
Odine word oorleef deur haar ouers en broer, Zander terwyl Janke en Lize hulle ouers, Louisa en Johan agterlaat.
Uit sensitiwiteit rondom die gebeure is geen van die ouerpare teen druktyd vir kommentaar genader nie.
Daar sal op 5 November ‘n roudiens om 11:00 by die NG Kerk Pietersburg-Noord gehou word vir Odine.
Die familie vra dat die bywoners nie swart sal aantrek nie, maar eerder helder-of pastelkleure waarvoor Odine so lief was, sodat “haar lewe gevier word soos sy geleef het”.




