Theyman se gewas is byna heeltemal verwyder
Na beide operasies het Theyman swakker geraak aan sy linkerkant, maar met fisioterapie word dit beter en hy sterk tans aan.
POLOKWANE – Dit is al ‘n jaar sedert Theyman Jongbloed gediagnoseer is met ‘n gewas op sy brein.
Hierdie pa van drie het verskeie toetse ondergaan om vas te stel waarom hy twee keer flou geword het, gewig verloor het en gesukkel het om te slaap.
Vandag is Theyman, na twee operasies amper ontslae van die gewas.
Hy is na vele toetse met laegraad glioma gediagnoseer.
Volgens sy dokter, dr. Christos Profyris, groei die gewas stadig, maar daar is ‘n kans dat dit ook kan aanhou groei.
“Die beste behandeling is om die gewas ten volle te verwyder en dan gereelde opvolg MRI-skanderings. Dit is ‘n skaars tipe gewas. Dit ontstaan wanneer selle in die brein, Astrasiete-selle, begin verdeel en mekaar vervang sonder beheer.”
Aangesien die gewas aan die frontale lob groei, het dit die brein beskadig.
Die gewas was op ‘n plek in sy brein wat sy emosies aantas.
Dit het vier breinventrikels vasgedruk en spanning op die brein veroorsaak.
Dit kon weer lei tot hidrokefalie, wat water op die brein beteken.
Hy sou in November 2021 ‘n stent in sy brein kry en daar sou ook ‘n biopsie gedoen word.
As gevolg van komplikasies wat bloeding veroorsaak het, kon die stent nie ingesit word nie.
In Junie vanjaar het Theyman ‘n operasie ondergaan om ‘n deel van die gewas te verwyder.
In Oktober moes Theyman weer na die teater waar nog ‘n deel van die gewas verwyder is.
“Hierdie operasie was ‘n sukses. Daar is reeds 97% van die gewas verwyder. Tydens hierdie operasie het die dokter vanaf sy oogbank ingegaan na sy brein toe,” vertel sy vrou, Simoné.
Theyman erken hy voel goed.
“Ek kry nie meer hoofpyne nie en ook nie epileptiese aanvalle nie. Juis omdat ek fisies nie meer sleg voel nie, gaan dit emosioneel ook baie goed met my.”
Na beide operasies het Theyman swakker geraak aan sy linkerkant, maar met fisioterapie word dit beter.
Theyman moet weer in Januarie vir ‘n MRI-skandering gaan waarna die dokter sal bepaal of hy die laaste 3% van die gewas gaan verwyder.
Daarna moet hy elke drie maande vir 12 maande lank vir ‘n skandering gaan.
Dit is om seker te maak daar vind geen nuwe groei plaas nie.
“Aangesien dit net ‘n graad 2 gewas is, het Theyman nie chemoterapie of bestraling nodig nie. Ons moet dit net streng monitor,” sê Simoné.
“Die dokter is ons Superman-dokter, ‘n instrument wat vanaf Bo na die aarde gestuur om wonderwerke te verrig en hoop te gee aan mense. Ons is opreg dankbaar vir ons ouers en familie, vriende, dr. Profyris en sy mediese span agter hom, en elkeen in die gemeenskap wat ons in hulle gebede gedra het. Julle weet nie wat julle ondersteuning vir ons as gesin beteken nie.”




