Local News

Wat om te doen as ‘n onderwyser jou kind by die skool boelie

Kliniese sielkundige Zelda Buitendag verduidelik hoekom sommige onderwysers die leerders by hulle skool boelie, en hoe om die situasie te hanteer.

POLOKWANE – Een van die gonswoorde in die moderne eeu is ‘boelie’.

Gereeld word daar in die nuus berig van nóg ‘n geval waar ‘n kind by die skool deur ‘n ander kind geboelie is, soms tot op ‘n vlak waar selfmoord vir die slagoffer soos die enigste uitweg voel.

Daar is twee soorte boelies naamlik fisiese boelie en emosionele boelie, en alhoewel boelie gewoonlik tussen leerders plaasvind, is daar dikwels ook onderwysers wat kinders boelie.

Polokwane Review het met kliniese sielkundige Zelda Buitendag gesels oor hierdie verskynsel.

“Baie onderwysers doen meer as wat van hulle verwag word, alles in belang van die kind. Maar soms is daar sekere onderwysers wat nie hulle verantwoordelikhede ernstig opneem en reg hanteer nie en dan sommer ook die leerders boelie.”

Sy verduidelik sulke tipe onderwysers veroordeel kinders se vermoë, bespot hulle en manipuleer hulle in plaas daarvan om behoorlike dissiplinêre prosedures te gebruik of van effektiewe klaskamerbestuurstegnieke gebruik te maak.

“Ouers moet nie huiwer om fisiese boeliegedrag aan te meld nie. In die geval van emosionele of mondelingse afknouery weet die ouers dikwels nie wat om te doen nie. Die vrees dat dinge vir die kind erger kan raak is dikwels daar.”

Sy raai leerders aan om nie stil te bly as hulle geboelie word nie.

Dit is elke skool se verantwoordelikheid om aksie te neem teen boelies, ongeag of hulle volwassenes of leerders is.

“Praat met iemand wat jy kan vertrou, soos ‘n ander onderwyser, personeellid of jou ouers.”

Zelda verskaf idees oor hoe om sulke situasie te hanteer:

• Hou boek van al die voorvalle waar jou kind afgeknou word: “Teken elke voorval aan met datums, tye, getuies, optrede en gevolge. Fisiese boelie en kuberboelie moet aan die polisie gerapporteer word. Indien ander persone deel van die boelie gedrag is, moet dit ook aangeteken word.”

• Ondersteun jou kind en stel hom gerus: “Gesels met jou kind oor sy dag by die skool en wat gebeur het. Herinner hom dat jy hom wil help en dus ander mense moet betrek. Skakel ‘n berader, laat evalueer jou kind deur ‘n pediater en wees op die uitkyk vir tekens van depressie, angs en slaapprobleme.”

• Bou jou kind se selfbeeld op: “Help jou kind om sy sterk punte en goeie eienskappe raak te sien. Moedig hom aan om op dinge wat hy geniet te fokus.”

• Praat met jou kind oor die voorval voor jy die probleem oplos: “Moet nie agter jou kind se rug ‘n afspraak maak met die onderwyser of die hoof nie. Berei jou kind emosioneel voor daarop dat die vergadering nie noodwendig glad gaan verloop nie.”

• Volg die regte lyn van kommunikasie: “Begin by die onderste deel van die kommunikasie lyn, byvoorbeeld die klasonderwyser of graadhoof. Probeer die probleem eers op die laer vlak oplos voor jy na die hoof se kantoor gaan.”

• Bespreek die situasie met die onderwyser en hou ‘n oop gemoed: “Bespreek die situasie met die onderwyser en luister na wat hulle sê. Probeer om nie te skree en hulle aan te val nie.”

• Sê hoe jy voel, maar laat ander ook kans kry om te praat: “Bespreek jou kind se gevoelens en vra die onderwyser wat hy of sy van jou kind ervaar.”

Zelda voeg by dis belangrik om die klagte hoër te neem as die situasie nie verbeter nie.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button