Local News

Sluk jou trane wanneer jy jou kind by die skool aflaai, beveel kenner aan

Soms gebeur dit dat 'n ouer onwetend hulle eie hartseer en onsekerheid op die kind afsmeer waneer hulle vir die eerste dag van skool afgelaai word.

POLOKWANE – Die afwesigheid van trane was opmerklik toe die opgewonde gr. R en gr. 1 leerders hierdie week by die skoolhekke instap.

Die ouers, aan die ander kant, het hier en daar hard gesluk om die ongewenste traan of twee weg te hou.

Kinders gaan deesdae reeds op ‘n baie vroeë ouderdom na ‘n dagsorg of kleuterskool en teen die tyd wat hulle gr. R en gr. 1 is, is daar nie ‘n teken van trane nie.

Tog kan dit gebeur dat mamma en pappa se hartseer en vrees op hulle kind geprojekteer word.

Polokwane Review het met gr. R juffrou Gerda Joone gesels om meer uit te vind.

“Jy as ouer is dalk so bekommerd oor jou kind dat jy self oorweldig voel. Of dalk was skool nie vir jou lekker nie en jou kind weet dit. Kinders kan maklik ‘n ouer se houding aanvoel, daarom moet jy hulle help om skool met prettige en gelukkige idees te verbind. Maak seker jy lyk selfversekerd en opgewonde dan sal jou kind se selfvertroue ook meer wees. Probeer om tuis ‘n atmosfeer van positiewe opwinding te skep.”

Ouers dink soms hulle moet by hulle kind bly as dié begin huil, maar Gerda sê dit is beter om te ry.

“Maats meng gou met die ander maats en die hartseer gaan oor. Wanneer die ouers te lank bly verleng hul die afskeid wat dan ook maak dat maats langer hartseer bly.”

Ouers kan die skeiding makliker maak deur met hulle kinders te gesels.

“Bespreek hulle vrese met hulle. Dalk ry ouers gereeld verby die skool of bly hulle naby genoeg om ‘n dag of twee voor die tyd vir hul kind die toekomstige skool te gaan wys. As ouers spesifieke roetines en gebruike het wanneer hulle ry, sorg dat hulle dit selfs op dié dag doen. Dit sal jou kind gemakliker maak aangesien hulle reeds bekend is daarmee.”

Nog ‘n paar maniere is om voor die tyd voor te berei, pak klere reg, kry ontbyt vroeg reg en maak vinnig klaar.

“Om onnodige ekstra tyd te hê skep meer geleenthede vir iets om skeef te loop. Moenie vir jou kind sê jy gaan hom mis nie, dit laat hom dalk besef hy gaan jou ook mis.”

Soms kry onderwysers te doen met helikopter-mammas: Die tipe mamma wat kort-kort bel en vra hoe dit gaan, of boodskappe stuur.

Gerda beveel aan om te wag tot aan die einde van die dag voor jy die juffrou kontak.

“Moenie kort-kort by die klas gaan inloer of heeltyd vir die juffrou WhatsApp boodskappe stuur oor hoe dit gaan nie. Juffrou sal jou laat weet as daar n probleem is.”

Ouers het soms bietjie meer gerusstelling nodig. Gerda sê sy probeer om op die eerste oggend met elke ouer te gesels en vir hulle vertel wat die kinders gaan doen.

“Ek stuur gereeld deur die dag vir die ouers foto’s of ‘n boodskap om hulle gerus te stel. Vir ouers is dit soms baie erger om by die skool weg te ry as wat dit vir die maatjie is om agter te bly.”

Review het ‘n paar plaaslike mammas gevra hoe hulle vir die nuwe skooljaar voorberei het:

Lizelle Coetzer: My dogtertjie is so opgewonde, elke oggend die afgelope twee weke word sy wakker en vra of sy vandag skool toe gaan. Ons tel ook die dae af, mamma meer as die kinders. Gelukkig ken sy al die onderwysers, want my seuntjie was verlede jaar in gr. 1.
Ons het ook saam skryfbehoeftes gekoop wat sy help kies het en dan is die skoolrokkie gereed in die kas.
Mariza Pelser: Gr. 1 voel soos die maklikste ding ooit, jy weet jy het sewe jaar om jou klein pikkewyn nog te koester en vas te hou. Niemand vertel mens hoe moeilik en hartseer dit is om jou kind in gr. 7 af te laai en dan besef jy die kleintyd fase is verby en jy moet hierdie klein grootmens net in die regte rigting hou vir nog paar jaar. In die geval, moet mamma en pappa kalm gehou word?
Chazelle Jacobs: Ons tel die slapies af saam ons jongste dogtertjie tot sy gr. R begin. Sy sien baie uit. Ons sal maar sien hoe dit gaan as sy eers moet begin.
Isabele Steenekamp: My seun, Arnoux, is baie opgewonde om met gr. R te begin by Oosskool. Hy is in die leeutjie klas.
Leoné Diedericks: Malan, my seuntjie, gaan nou gr. 1 toe. Ons het skoolklere gaan koop en saam sy skooltas gepak. Hy is bitter opgewonde en het die voorreg om sy ouma, Elza Janse van Rensburg, as sy gr. 1-juffrou by Akademie Reformia te hê. Ons sien baie uit na die nuwe hoofstuk van grootskool.
For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button