Local News

Wees prentjiemooi en afgerond met Nadia se klasse

Nadia van Waveren se liefde vir skoonheid, en om jong meisies en vrou daarvan te leer en hoe hulle hul eie skoonheid tot sy reg moet laat kom, lê haar na aan die hart.

POLOKWANE – Nadia van Waveren onthou hoe sy as jong dogter, Saterdagoggende met ‘n pruilmond voor haar ma gestaan het sodat haar lippe ook “ingekleur” kan word voordat hulle dorp toe gaan – soos talle ander meisies van daardie ouderdom.

Hierdie proses was egter nie net ‘n pretaktiwiteit tussen ma en dogter nie, maar deel van ‘n les wat Nadia vandag nog koester. En nou gaan sy haarself toespits om ander vroue ook te bemagtig om op hul mooiste te lyk.

“My ma het my van jongs af geleer ‘n vrou moet haarself versorg. Ek onthou hoe sy, selfs voor my pa huis toe sou kom, lipstiffie aangewend het. Haar woorde was dikwels dat ‘n vrou versorg moet lyk en tot vandag toe kan ‘n mens haar daagliks deur ‘n ring trek.”

Met twee seuns, het Nadia vroeg reeds haar kennis aan die ander familiekinders begin oordra, skerts sy.

Haar liefde vir skoonheid, en om jong meisies en vrou daarvan te leer en hoe hulle hul eie skoonheid tot sy reg moet laat kom, lê haar na aan die hart.

Dit is ook reeds ‘n geruime tyd dat sy die behoefte het om haar vaardighede aan ander oor te dra.

“Met die wat beide my seuns nou groot is, het ek nou die geleentheid om my droom na te streef. Ek kan nou al my aandag insit om ander te help. Ek beoog om dit in die vorm van klein groepies te doen en sodoende te sorg dat elke vrou of meisie die nodige aandag kry. Tydens hierdie groepe sal hulle die tegnieke leer om hulle eie grimering aan te sit en met oefening te vervolmaak.”

Sy beoog ook om speel-speel vir jong meisies te leer hoe om hulle grimering aan te wend. Nadia gaan basiese velsorgbehandelingmetodes aanbied en verskillende soorte partytjies, soos ma-en-dogter of vriendinne. Daar is ook verskeie lesse om te leer hoe om jouself te grimeer.

“Gee hulle ‘n rede om te staar deur jou kennis van grimering op te knap,” is haar raad aan ander vroue. Volg haar gerus op sosiale media om meer te wete te kom oor haar groepklasse.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button