Local News

‘n Higiëniese mond vir goeie algemene gesondheid

Baie aspekte van ons mondgesondheid is familieël, en word beïnvloed deur ons gene; die grootte van jou mond en tande, hoe jou kakebeen ontwikkel, en selfs die vatbaarheid van tandvleisinfeksies.

POLOKWANE – Maandag is Wêreld Mondgesondheidsdag, met die tema ‘wees trots op jou mond’ gevier en Polokwane Observer het met mondhigiënis, Natasha van Reede van Oudtshoorn oor algemene mondsorg gesels.

“’n Mens kan baie siek word as jy nie jou tande versorg nie. Bakterieë in jou mond kan in jou bloedstroom beland. Dit kan na verskillende organe en dele van jou liggaam versprei en ernstige komplikasies tot gevolg hê. Daar is baie studies wat bewys dat daar ‘n verband is tussen hartsiektes en periodontale infeksies soos die ondersteuningsisteem van jou tand, die tandvleis, ligamente en been. Met Covid-19-infeksies, kan swak mondhigiëne en baie bakterieë in jou mond ook lei na sekondêre longinfeksies. ‘n Goeie, gesonde mond is dus ‘n goeie voorsorgmaatreël vir goeie algemene gesondheid.”

Sommige mense moet valstande dra en dit word net soos jou gewone tande skoongehou. “Daar is spesiale bruistablette beskikbaar om jou gebit in te week, party oornag, party net vir drie minute.

“Mens kan ook jou vals tande borsel met gewone groen Sunlight seep, dit is nie abrasief nie wat beteken dit sal nie die akriel beskadig nie.”

Draadjies word in die laaste jare al hoe gewilder, almal wil tog reguit tande hê. Dit opsig self kan nie jou tande beskadig nie, maar swak mondhigiëne terwyl jy draadjies het, kan die emalje op jou tande beskadig. Dit is dus belangrik om jou tande en draadjies skoon te hou om enige skade te voorkom.”

Met tye pak jy vinnig in vir ‘n reis en vergeet soms items soos jou tandeborsel. Wat nou?

“Bêre ‘n ekstra houertjie flos in jou kar. Flos kan help om baie bakteriegevulde plaak onder die tandvleise te verwyder. Jy kan ook ‘n klein takkie van ‘n boom afbreek, die puntjie in water sit om dit sagter te maak, die punt uitrafel dat dit soos ‘n borseltjie lyk en jou tande daarmee skoonmaak. Een tand op ‘n slag sonder tandepasta. En spoel jou mond uit met water elke keer nadat jy geëet het.”

Baie mense glo kinders se tande word swart en weggevreet as gevolg van chroniese medikasie, maar Natasha sê dit is nie waar nie.

“Ons noem dit bababottelkaries en dit is as gevolg van suikerinname. Dit gebeur as babas iets anders in hulle bottel kry as melk of water. Sap, tee met suiker of heuning, Milo en selfs gaskoeldrank speel ‘n rol. Ons sien dit ook in groter kinders. Verrotting is grotendeels as gevolg van suiker en swak mondhigiëne, die tande word nie korrek en gereeld geborsel nie.”

Sy raai ouers aan om hulle baba voor sy eerste verjaarsdag reeds na ‘n mondhigiënis te neem. Sodoende gaan jy betyds die regte inligting en advies kry rakende die versorging van die baba se tande.”

Verrotte melktande veroorsaak nie verrotting van die permanente tande nie. Permanente tande kom altyd gesond en sonder gaatjies uit die kas uit.”

Baie aspekte van ons mondgesondheid is familieël, en word beïnvloed deur ons gene; die grootte van jou mond en tande, hoe jou kakebeen ontwikkel, en selfs die vatbaarheid van tandvleisinfeksies.

“Swak mondhigiëne bly die nommer een oorsaak van baie van ons mondprobleme. Indien jou ouers of grootouers probleme gehad het met hulle tande, kan dit beteken dat jy meer vatbaar is daarvoor, en daarom moet jy ‘n baie goeie mondhigiëneroetine vasstel om probleme te voorkom.”

Besoek gereeld jou tandarts of mondhigiënis.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button