Mokopane Dienssentrum in nood
Die dienssentrumbestuur pleit dat donateurs na vore sal kom om die instansie nie net finansieel te ondersteun nie maar ook op ander gebiede.

MOKOPANE – Die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes, ‘n organisasie sonder winsbejag wat reeds 37 jaar aan die bejaardes elke dag ‘n bord kos voorsien, is in die nood gedompel en vra die gemeenskap om hul harte oop te maak.
Die dienssentrum lewer daagliks dienste soos gebalanseerde etes, aflewering van etes aan verswakte bejaardes en kliniekdienste.
Daar is selfs ‘n haarsalon, naelsalon, trimgim, koorsang, naaldwerk, die biblioteek, vervoerdienste, uitstappies en toere, speletjies asook sosiale geleenthede waar seniors bymekaarkom.
“Ons lewer dienste aan ongeveer 363 bejaardes waarvan 58% se enigste inkomste ‘n staatspensioen is,” verduidelik dienssentrumbestuurder, Hannetjie Bam.
Sy voeg by dat die dienssentrum daarna streef om persone van 60 jaar en ouer so aktief moontlik, vir so lank as moontlik, deel van die gemeenskap te hou en kwaliteitdienste teen bekostigbare pryse aan hul te lewer.
“Die Kierieklapper Kunstefees is ons grootste fondsinsamelingsprojek en vanweë die pandemie kon ons vir ‘n paar jaar nie dié fees aanbied nie. Daarom kon ons nie ‘n ekstra inkomste genereer nie. Ons is opgewonde om vanjaar die fees aan te bied maar kan nie die verliese van die vorige jare uitwis nie. Te midde van hierdie krisis moet ons voortgaan om kwaliteit dienste te lewer, alhoewel die finansiële verlies en stygende pryse van brandstof, vleis en ander produkte hierdie dienste bemoeilik.”
Die dienssentrumbestuur pleit dat donateurs na vore sal kom om die instansie nie net finansieel te ondersteun nie maar ook op ander gebiede. “Enige skenking, groot of klein, word opreg waardeer. Julle hulp en ondersteuning sal vir ons van onskatbare waarde wees. Ons wil net weer beklemtoon dat enige bydrae ter verbetering van ons lede se omstandighede aangewend word en maak ‘n groot verskil aan ons begroting.”
Die dienssentrum het tans ‘n groot behoefte aan groente, vleis, vrugte, eiers, koekmeel, mieliemeel en nie-bederfbare kosse. Indien jy weet van boere wat groente geplant het wat nie markgehalte is nie en steeds bruikbaar is vir menslike gebruik, kontak die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes by 015 491 5747.
“Ons sal met groot dankbaarheid hierdie groente kan gebruik as donasie of teen ‘n goedkoper bedrag aankoop.”
Die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes is ‘n geregistreerde publieke liefdadigheidsorganisasie vir die ontvangs van donasies van geld en goedere, het Hannetjie afgesluit.




