Erik Holm vertel van Trauma tot Trimof
Bekende akteur Erik Holm het die gehoor aangemoedig om die spreekwoordelike pleister van hulle trauma af te trek en saam met hom die storie te beleef.
MOKOPANE -“Veertien jaar terug het ek gevoel dat my lewe verby is. Ek wou nie meer nie.”
So verduidelik die bekende Binnelanders-akteur, Erik Holm wat onlangs sy verhaal met sowat 150 inwoners van Mokopane gedeel het.
Die Piet Potgieter Monument Ouetehuis het die geleentheid aangebied as deel van ‘n fondsinsamelingsprojek.
Sy verhaal van Trauma tot Triomf en hoe hy sy rolstoel-uitdaging leef, het die gehoor in boeie gehad. ‘Ek het 14 jaar terug my nek gebreek, nadat ek besluit het om agter ‘n bal in ‘n dam in te spring. Ek het op moedverloor se vlakte geëindig.”
Hy vertel dat dit uiteindelik sy pa was wat hom voor ‘n keuse gebring het.

“Daardie tyd het daar soveel gedagtes deur my kop gemaal, maar vandag weet ek dat die pad wat ek gekies het, die regte een was. Ek kan met my storie help om ander te motiveer.”
Holm het na die voorval besluit om hulde te bring aan sy gesin wat hom oor dié berg op sy pad gehelp het.
“Mense besef nie regtig wat die spelers agter die gordyn doen nie. Ek kan nie doen wat ek doen sonder die mense wat my ondersteun nie en daarom het ek Blou-Blou geskryf – om dankie te sê.”
Hy voeg by dat hy die praatjie al regoor die land gelewer het, maar op ‘n stadium gekom het wat hy besef dis nou genoeg.
“En toe kom Covid-19. Mense het gretig hulle pandemiestories met my gedeel, en dit het my teruggeneem na my eie verlede. Daar is soveel raakpunte met my storie, en dit het my van voor af aangemoedig om mense weer te begin motiveer. Dit was die ontstaan van Trauma tot Triomf.”
Hy het die gehoor aangemoedig om die spreekwoordelike pleister van hulle trauma af te trek en saam met hom die storie te beleef.
“Daar is dalk iets kleins in my storie wat kan help om wonde te genees. Ek wonder baie wat ‘n mens as enkeling in hierdie wêreld kan doen om ‘n verskil te maak. Waar vat jy, waar gryp jy, waar los jy en al waarop dit op neerkom elke keer is om deel te bly van ‘n gemeenskap. Dit is immers wat jou vashou, dis wat jou dra, dis waar jy ook die beste jou kragte kan insit. Dankie dat ek kon deel wees van hierdie gemeenskapsnetwerk, en dat ek my lewensverhaal met julle kon deel,” het hy afgesluit.




