Local News

Prokureur op 61, toe sterf Joseph skielik

Joseph se strewe om elke dag voluit te leef is 'n kenmerk wat sy familie graag wou nastreef.

POLOKWANE – Slegs enkele maande nadat Joseph Jansen van Vuuren op 61 jaar as prokureur ingelyf is, is hy skielik oorlede. Sy droom was om teen die tyd dat hy 62 word, reeds ‘n gevesdigde praktyk te hê.

Sy vrou Henriette, sê hy was op 20 April in ‘n privaat hospitaal in die stad opgeneem vir ‘n noodoperasie om ‘n breuk te herstel.

“Die Donderdag en Vrydag na die operasie was hy besig om goed te herstel en het hy uitgesien om die Saterdag ontslaan te word, maar hy is vroeg dié oggend oorlede. Ons wag tans op die outopsie-verslag,” het ‘n gebroke Henriette Polokwane Observer meegedeel.

Joseph en Henriette is in Junie 2013 die knoop deurgehaak.

Nadat hy in 2019 met aanlynklasse begin het en later die regte-skool voltooi het, het hulle ‘n saak begin waarin hulle in boedeladministrasiedienste spesialiseer.

Joseph het vir talle jare by Anglo Platinum, Anglo Global Services en Bokoni Myn gewerk. Na skool het hy by die weermag aangesluit met ‘n droom om regte te studeer.

Tydens sy tyd by Anglo het Joseph sy B.Com graad verwerf, en dit met 15 regsvakke aangevul om B.Com regte agter sy naam te kon skryf. Dié graad het hy reeds in 2015 voltooi.

Joseph het daarna met sy LLB-graad begin en, nadat hy by Bokoni Myn afgelê is, het hy begin aansoek doen om sy klerkskap by ‘n prokureursfirma te voltooi.

Een prokureur het reageer en Joseph kon sy klerkskap voltooi.

Teen die tyd dat hy 61 was het hy, met behulp van lektore en vriende, die prokureursorde-eksamen geslaag en is hy toegelaat as prokureur.

Henriette het hom beskryf as haar beste vriend en ‘n wonderlike stiefpa vir haar dogter, Kristi Kirstein.

“Niks was ooit te veel moeite vir hom nie. Ons gaan sy onbaatsugtige liefde en hoe hy dit elke dag vir ons gewys het, mis.”

“Ons word oorval deur boodskappe van mense wat hy gehelp het. Ek wil baie graag sy nalatenskap laat voortleef en gaan dus met ons besigheid voortgaan.”

Joseph se strewe om elke dag voluit te leef is ‘n kenmerk wat sy familie graag wou nastreef.

“Ons het geleer dat ‘n mens nooit te oud is om te leer nie en ons nooit moet tou opgooi nie. Alle beroepe is edel en elke mens moet bydra tot die groter prentjie in die lewe.”

Tydens die vorige onderhoud met Joseph het hy die wens uitgespreek om ‘n inspirasie vir ander mense, wat graag hulle doelwitte wil bereik, te wees.

Hy word oorleef deur Henriette, twee seuns, ‘n stiefdogter en ander familie en vriende.

Daar word ‘n lewensviering vir hom beplan. Die datum is nog nie bevestig nie.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button