Desiree van der Walt by wetgewer ingesweer
Van der Walt sien haar ontplooiing na die provinsiale wetgewer as 'n geleentheid om nader aan die gemeenskap te kom en van diens te wees.
POLOKWANE – Die voormalige voorsitter van die parlementêre koukus van die DA in die parlement, Desiree van der Walt, is Vrydag tydens ‘n seremonie by Bolivia Estate as lid van die provinsiale wetgewer ingesweer deur die speaker in die wetgewer, Rosemary Molapo.
Van der Walt vul die vakature wat gelaat is toe Jacques Smalle terselfdertyd na die nasionale vergadering ontplooi is.
Van der Walt het haar ampseed trots in Afrikaans afgelê en aangedui dat, hoewel sy al 12 amptelike landstale omarm, Afrikaans steeds haar moedertaal bly.
“Dit is die negende keer wat ek die eed in Afrikaans afgelê het,” het sy verduidelik.
Sy was meer as 19 jaar ‘n lid van die parlement en van 2010 tot 2014 ook lid van die provinsiale wetgewer.

Van der Walt is in Polokwane in die gebou wat nou as Martha Hofmeyr Tehuis bekendstaan, gebore toe dit toentertyd ‘n kraaminrigting was en maak steeds ‘n punt daarvan om by die seniors in die tehuis besoek af te lê, vernaamlik op haar verjaardag.
Sy pendel tussen haar huis in Tzaneen en die parlementêre dorp in Polokwane en het twee dogters en vyf kleinkinders wat in Kaapstad woon. Haar eggenoot het haar tydens die Covid-19-pandemie ontval.
Van der Walt was die eerste vrou in Limpopo wat ‘n parlementslid geword het en het haar politieke loopbaan as munisipale raadslid in Roodepoort en Johannesburg begin en later in Tzaneen in die raad gedien.
Haar blootstelling aan politiek op al drie vlakke sal beslis van waarde wees in haar nuwe werksomgewing.
“Dit is vir my kommerwekkend dat die standaard van politieke ampsbekleders drasties gedaal het, veral dié van die regerende party. Hulle tree nie meer in belang van dié wat hulle verteenwoordig, op nie en dryf eenogig die agenda van hul party se belange en bevorder nepotisme en korrupsie. Hulle het geen aanvoeling vir die nood van die armes nie,” is haar mening.
Van der Walt sien haar ontplooiing na die provinsiale wetgewer as ‘n geleentheid om nader aan die gemeenskap te kom en van diens te wees.
Sy glo dat ‘n toegewyde openbare verteenwoordiger sy eie voorkeure moet aanpas by die behoeftes van sy taak en neem haar oorsigrol baie ernstig op.
“Eis jou regte op,” sê Van der Walt en voeg by dat haar werk uitdagend maar aangenaam is wanneer ‘n mens jou gemeenskap in jou hart dra.




