Huisbrand: Bure, stad spring in en help
Tarita Kuschke sê hulle huis was vol erfstukke, meubels en juwele wat reeds geslagte lank in die familie is.
POLOKWANE – “Woorde is nie voldoende om te verduidelik hoe dit voel as jou huis met jou hele lewe in, afbrand nie.” Só vertel Tarita Kuschke, ‘n paar dae nadat haar gesin se huis verlede week in Cathleenstraat afgebrand het.

Tarita, haar man Rüdi en hulle kinders het onlangs na dié huis verhuis, en sou Vrydagnag vir die eerste keer daar slaap.
Donderdagaand het hulle by haar ouers gaan kuier en was dus nie by die huis toe die brand in die vroeë oggendure Vrydag uitgebreek het nie.
“Ons het Donderdag by die huis gery en toe ons Vrydagoggend terugkeer, sien ons wat aangaan. Daar is nie woorde om te beskryf hoe dit voel nie.”
Cycil Baloyi, ‘n insleepdiensbestuurder, was eerste op die toneel.
“Ek was op my pos naby die huis en rook gesien. Dis toe wat ek besluit om te gaan kyk wat aangaan. Dit was net na middernag Donderdagaand. Die oomblik toe ek op die toneel kom was daar nog niemand nie. Ek het die brandweer geskakel en binne oomblikke was daar baie mense op die toneel wat probeer help het.”
Die bure het ingespring om te help, en die volgende oggend het vriende en kennisse gereël vir klere, kos en tydelike woonplek vir die gesin.

Beide Rüdi en Tarita werk van die huis af en het waardevolle inligting verloor.
“Ons is dankbaar vir die goedhartige mense wat vir ons tydelike kantore het om vanaf te werk.”
Tarita sê hulle huis was vol erfstukke, meubels en juwele wat reeds geslagte lank in die familie is.
“Dit saam met ‘n dooprok wat met elke generasie saam behou is, en aandenkings van hulle troue is ook verwoes.”

Toe die gemeenskap van die brand uitvind, het hulle ingespring en begin help.
Potties Rugbyklub het intussen ‘n uitdaging aan ander rugbyklubs gestel om geld vir die gesin te help insamel.
Met die wat alles in die brand vernietig is, is talle Whatsappgroepe gestig om die gesin by te staan. Indien jy kan help:
Klere:
• Man: Baadjies en truie – L; Hemp – L; broek – 32; skoene – 7.
• Vrou: Baadjies – S/M – 8.
• Dogter: Klere – twee tot drie jaar; skoene – 6.
• Seun: Klere – ses tot 12 maande.
“Ons het verder alles verloor in die brand, ons kort onder andere meubels, linne en kombuistoerusting. Ons wil ook dankie sê vir almal se bereidwilligheid om te help, ons kan nie beskryf hoeveel ons dit waardeer nie,” het Tarita afgesluit.
Bankbesonderhede vir skenkings:
Rekeningnaam: T. Kuschke.
FNB
Rekeningnommer: 62750680607
Takkode: 250655
Volgens die munisipale woordvoerder, Thipa Selela, het 18 brandweerpersoneellede op ‘n rotasiebasis regdeur die nag gewerk om die brand te probeer blus, en die groot aantal palmbome in die erf het dié taak aansienlik bemoeilik.



