Local News

Oud-onnie Dries Eksteen se dood betreur

HTS Tom Naudé se geliefde oud-onnie Dries Eksteen is egter op 20 Mei in die ouderdom van 65 aan bloeding op die brein oorlede.

POLOKWANE – Sy eerste werk was as knap motorwerktuigkundige in Pretoria, terwyl hy onderwys studeer, en dit was juis met dié kennis dat Dries Eksteen jare later sy taak as onderwyser by HTS Tom Naudé so noukeurig sou uitvoer.

Sy taak én passie was dié van meganiese tegnologie: motorwerktuigkundige en ingenieursgrafika- en ontwerponderwyser.

Dié geliefde oud-onnie is egter op 20 Mei in die ouderdom van 65 aan bloeding op die brein oorlede.

Sy dogter, Amanda Meyer, meen die bloedverdunners wat haar pa geneem het, het uiteindelik bloeding op die brein veroorsaak.

“Die neurochirurg het ‘n operasie gedoen om dié te dreineer. Hy het ‘n 15x7cm-sny gemaak in ‘n operasie wat vyf ure geduur het. Net voor hulle die sny kon toe maak, het sy bloeddruk egter gestyg en wou hulle eers wag aangesien die bloeding weer kon begin. Nadat hulle die wond toegemaak het, is hy onder sedasie gehou sodat die swelling kon sak. Hy het nie weer wakker geword nie. “

Volgens haar was hy ‘n wonderlike pa.

“Hy was baie liefdevol en geduldig en het net die beste in almal uitgebring. Hy het altyd tyd gehad vir ‘n grappie. Hy het met almal ‘n geselsie aangeknoop, of hy jou nou geken het, of nie.”

Sy beskryf haar pa as iemand met ‘n oop hart en hand.

“Hy het nooit kinders van sy eie gehad nie, maar nadat hy met my ma, Jenny getroud is, het hy ses kinders bygekry. Sy huis was altyd oop vir nog kinders en almal was altyd welkom.”

Sy beskryf hom verder as ‘n opregte man wat altyd eerlik was.

“Hy was snaaks, geduldig en avontuurlustig. Hy word onthou as iemand met respek en wat nooit geskroom het om iemand anders te help nie.”

Eksteen was tot in 2019 by Tom Naudé werksaam, waarna hy gaan boer het.

By die skool was die leerders gek oor hom en was hy ewe gewild as rugbyafrigter.

Skoolhoof Vanessa Kachelhoffer onthou hoe hy vir lekkerlagoomblikke gesorg het.

“Na vier baie uitputtende periodes het hy, toe die klok lui, koshuis toe gegaan – vas oortuig dat dit die einde van die skooldag was. Toe ons hom skakel het hy gedink ons bak hom ‘n poets toe ons sê sy gr. 12’s wag voor sy klas. Ons het hom tydens elke personeelfunksie hieroor gespot.”

Sy onthou ook hoe Eksteen en voormalige hoof, Piet Holtzhausen steeds na hulle aftrede op Vrydae en Saterdae vir die gr. 12’s ekstra IGO-klasse aangebied het.

“Dit was hul passie en hulle het geen vergoeding hiervoor gekry nie, behalwe dat die Tommies goed gevaar het tydens die eksamen. Op Maandae wou almal graag tydens pouse by Oom Dries se tafel sit om te hoor wat hy gedink het oor die skeidsregter wat vir die eerstes geblaas het. Hulle het altyd deurgeloop, maak nie saak of die Tommies daai wedstryd gewen, of iets geleer het nie.”

Volgens Meyer sal die families sy liefde vir Jenny en die kinders mis.

“Hy was altyd daar vir almal. Ons gaan sy unieke sin van humor mis. By hom het ons geleer om die lewe te geniet, om met ons beste maat te trou, en hoe om hard te werk.”

Eksteen word oorleef deur sy vrou, Jenny, ses kinders en ses kleinkinders asook twee broers en ‘n suster. Sy roudiens is op 26 Mei gehou.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Raeesa Sempe

Raeesa Sempe is a Caxton Award-winning Digital Editor with nine years’ experience in the industry. She holds a Bachelor’s Degree in Media Studies from the University of the Witwatersrand and started her journey as a community journalist for the Polokwane Review in 2015. She then became the online journalist for the Review in 2016 where she excelled in solidifying the Review’s digital footprint through Facebook lives, content creation and marketing campaigns. Raeesa then moved on to become the News Editor of the Bonus Review in 2019 and scooped up the Editorial Employee of the Year award in the same year. She is the current Digital Editor of the Polokwane Review-Observer, a position she takes pride in. Raeesa is married with one child and enjoys spending time with friends, listening to music and baking – when she has the time. “I still believe that if your aim is to change the world, journalism is a more immediate short-term weapon." – Tom Stoppard

Related Articles

Back to top button