Isabel se hart trek ‘n punt krieket toe
Isabel Bezuidenhout, 'n leerder by Oosskool, het vanjaar dié skoene volgestaan as bekwame bouler en lid van dié skool se tweede krieketspan.
POLOKWANE – Haar broer, Coenraad se ou kriekettekkies is behalwe haar boulvernuf, van die min dinge waarmee Isabel Bezuidenhout (13) op die krieketveld stap.
Isabel, ‘n leerder by Oosskool, het vanjaar dié skoene volgestaan as bekwame bouler en lid van dié skool se tweede krieketspan. En toe sy boonop as speler van die wedstryd in hulle laaste wedstryd aangewys was, het dit behoorlik die kroon gespan op haar krieket- én gr. 7-jaar.
“My familie hou van krieket en ek is nog altyd daaraan blootgestel. Ek was maar agt jaar oud toe ek aan my ma begin karring het om, soos my broer, krieket te speel, maar my ouers het eers ‘n stokkie daarvoor gesteek. Daar was toe nie baie meisies wat dié sport beoefen het nie, en dus moes ek ‘n bietjie wag,” vertel sy.
Sy het reeds op ‘n jong ouderdom ‘n KFC-minikrieketdag bygewoon, en vertel dat haar liefde vir die sport van daar af net aanhou groei het.
Dit was in die grendeltyd dat Coenraad haar leer krieket speel het, en in 2021 kon sy by Eagles Cricket Academy aansluit. Alhoewel sy goed boul, kan sy vernuftig kolf ook wanneer sy die geleentheid kry. Sy oefen elke Vrydag saam met die akademie en drie maal ‘n week saam met haar span by die skool.
“Die lekkerste van die sport is wanneer ons as ‘n span saam speel, en daar nie onenigheid is tussen ons nie. Ek is redelik gespanne voor elke wedstryd, maar deur as ‘n span saam te bid voor ons begin met ‘n wedstryd, maak my rustig.”
Isabel het vroeër aan ander sportsoorte ook deelgeneem, maar sê haar hart trek ‘n punt krieket toe. Sy speel wel ook graag muurbal en kitaar, en is lief daarvoor om met haar neus in ‘n boek te sit of kuns te beoefen – sy het in die verlede selfs al die Limpopo Eisteddfod gewen met een van haar skilderye.
Vra haar oor haar rolmodelle en die antwoord kom vinnig.
“My broer, Coenraad is my held en my gunsteling krieketspeler binne én buite Suid-Afrika. David Muller is my gunsteling Proteaspeler en ek droom daarvan om eendag soos hy te kolf. Hy gee ook baie om vir die natuurlewe in Suid-Afrika. Ek is self lief vir die natuur en wil na skool ‘n marinebioloog word. En natuurlik wil ek vir die Proteas se vrouespan speel.”
Enige sport het egter sy beserings en soms is dit jou ego wat seerder as die lyf kry.
Isabel vertel dat tydens haar heel eerste oefening by die akademie, moes sy as veldwerker ‘n hoë bal vang. “Die bal het deur my hande geglip en op my gesig geval, wat toe lekker rooi was.”
Isabel sluit volgende jaar by Hoërskool Pietersburg aan waar sy hoop om by dié skool se meisiekrieketspan aan te sluit.




