Ouers word gewaarsku oor digitale verslawing
Dr. Anke de Beer, berader en mede-skrywer van die boek The Digital Dilemma het eerstehandse ervaring van digitale verslawing nadat haar jonger broer op hoërskool verslaaf geraak het aan aanlynspeletjies.
POLOKWANE – “Tieners van vandag ken nie ‘n tyd voor selfone, tablette en ander slimtoestelle nie. Huiswerk word deur sosiale media aan leerders deurgegee, afsprake word gereël en gekanselleer binne minute. Kleuters is meer behendig met dié tegnologiese toestelle as die meeste volwassenes. Almal aanvaar dit as normaal.”
Dr. Anke de Beer, berader en mede-skrywer van die boek The Digital Dilemma, met twee doktorsgrade in digitale verslawing, het verlede Woensdagaand met ouers, leerders en personeel van Hoërskool Pietersburg oor dié tameletjie gesels.
“Alhoewel sosiale media jou lewe vinniger en makliker maak, steel dit ook van jou. Dit steel jou tyd, jou selfbeeld en verhoudinge.”
De Beer het eerstehandse ervaring van digitale verslawing nadat haar jonger broer op hoërskool verslaaf geraak het aan aanlynspeletjies. Dié verslawing het uiteindelik so geëskaleer dat hy nie sy studies kon voltooi nie.
Sy verduidelik dat digitale verslawing onskuldig begin. ‘n Persoon word per ongeluk blootgestel aan iets, en dit raak geleidelik meer tot so ‘n mate dat dit vernietigend is.
“Daar is die vyf algemeenste internetverslawings: sosiale media, kompulsiewe internetverslawing, obsessie na inligting, rekenaarspeletjies en kuberseks of -pornografie. As jy as ouer iets vermoed, stel onmiddelik ondersoek in. Jy het vir jou kind ‘n selfoon gekoop. Jy betaal die data, WiFi en lugtyd, en dit is dus jou foon. Jy as ouer moet grense stel en beheer neem.”
Risikos van sosiale media en die internet sluit in ongewenste inhoud van ‘n seksuele aard, inhoud wat kinders verwar, die kind se gedrag aanlyn en waarna jou kind kyk. Dan is daar die boelies en predatore en jou kind se identiteit wat gesteel word.
De Beer sê daar is redes vir ouderdomsbeperkinge op aanlynspeletjies.
“Trauma maak ‘n afdruk op jou brein. Dit duur ses weke vir jou brein om te herstel. Pornografie is egter anders, aangesien hierdie beelde tot drie jaar kan neem voordat die afdruk daarvan in die brein verdwyn.”
Sy het ouers gemaak om fyn te let op kinders se optrede.
“Wanneer jou kind se gedrag begin verander, kan jy weet daar is iets op die selfoon aan die gang. Meisies is geneig om baie angstig en depressief te raak as hulle aan te veel skermtyd blootgestel word. Daar is verskillende tekens vir die verskillende verslawings. As dit pornografie is, sal jou kind minder respek vir jou as vrou hê, hy sal aggresief wees, lank agter toe deure wees en lank stort. Hy sal ook die skerm wegdraai as jy in die kamer inkom. Met aanlynspeletjies is dit al waaroor jou kind kan praat. Hy sal ook alles wat hy moet doen los net om te speel en jy sal beslis ‘n daling in wiskundepunte sien.”
Sy het ook die volgende feite gedeel:
• Dit neem die brein 23 minute om terug te keer na diep fokus, nadat jy iets op jou foon gekyk of gelees het.
• ‘n Mens tel jou foon gemiddeld 58 keer per dag op, met tussen-in poses van tussen drie en vier minute.
Lees meer oor gevaarlike toepassings, die verslawendste aanlynspeletjies en riglyne vir ouers: www.reviewonline.co.za.




