Bekende Polokwane elektrisiën sterf in ongeluk
Riekert Els (40) se afsterwe laat 'n groot leemte in die besigheidswêreld, by sy gesin en onder die mense wat hom geken het.
POLOKWANE – Vandag treur ons nie oor ‘n geliefde nie, maar ons vier eerder sy lewe.
Só gesels Riekert Els (40) se vrou, Monique na sy afsterwe verlede week in ‘n botsing in Landdros Maréstraat.
Hy was welbekend in die dorp as die eienaar van Regulation Electronica, ‘n elektriese saak. Die egpaar se drie kinders is onderskeidelik 14, nege en sewe jaar oud.
“As ek terugdink aan Riekert se lewe en watter tipe mens hy was, kom die gedagte op dat hy uitgestaan het op alle gebiede van sy lewe. Hy was ‘n natuurlike leier.”
Riekert het aan die Hoërskool Rob Ferreira gematrikuleer, waar hy altyd omring was met vriende.
Op 21 slaag hy sy Nasionale N3 sertifikaat in ingenieurswese met ‘n algemene gemiddeld van 83%.
In 2012 behaal hy sy rooiseël in Olifantsfontein as ‘n gekwalifiseerde elektrisiën.
Monique sê bykans almal wat in die afgelope 20 jaar met Riekert te doen gehad het, het hom gekomplimenteer oor die kwaliteit van sy werk. Sy doelwit in die lewe was altyd om ander te dien, maak nie saak wat dit geverg het nie.
“Hy kon besluite en planne, wat werk, in splitsekondes maak. As besigheidseienaar het hy sy span vir die afgelope agt jaar gelei, geleer en bygestaan. Riekert was altyd beskikbaar, maak nie saak of dit naweek, Desembervakansie of selfs in die middel van die nag was nie.”
Monique onthou ook dat Riekert se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. Daar was niks wat hy gesê het, hy kan nié doen nie. As hy nie geweet het hoe nie, het hy in elk geval die werk aangevat en geleer langs die pad. “By die huis was hy die avontuurlustige een wat altyd alles wou probeer. Hy was baie lief vir die natuur en het baie tyd buite spandeer. Saans sou hy gedurig vir my verskietende sterre of ‘n eienaardige groot maan of een of ander verskynsel gewys.”
Riekert het dit sy werk gemaak om seker te maak dat alles rondom hom reg loop.
“Hy was my en die kinders se steunpilaar, die man na wie ons opgekyk, en gevolg het. Sy kinders was vir hom die heel belangrikste. Hy het altyd gesê dat ons alles vir hulle doen sodat hulle ‘n hupstoot in die lewe kan hê. Ek dink dit is die klein dingetjies wat ons die meeste gaan mis, soos dat sy hande altyd met iets besig was.”
As sy kinders vir hom iets gevra het, het hy dit prioriteit gemaak om dit vir hulle te kry. Ons as ‘n gesin was in ‘n bevoorregte posisie om hom as ‘n man en pa te hê. Hy het my ondersteun in alles wat ek aangepak het en altyd vir my goeie raad gegee en my gehelp.”
Riekert se afsterwe laat ‘n groot leemte in die besigheidswêreld, by sy gesin en onder die mense wat hom geken het. Hy het diep spore getrap waar hy ook al gegaan het.
“Hy was diep gelowig en het God eerste geplaas. Hy het ons in liefde gelei om ook die Vader te volg en op Sy pad te loop. Hy het altyd gesê dat die lewe hier op aarde net ‘n toets is en dat dit nie ‘n plek is om gemaklik in te raak nie. As daar raad is wat ek wil oordra van sy kant af, is dat julle nie mislei moet word deur die dinge van die wêreld nie, maar dat julle die Vader met ‘n opregte hart moet soek. Hy sal dan vir julle sorg, soos ‘n herder vir sy skape sorg.”
Riekert word oorleef deur Monique en hulle kinders, twee susters, ‘n broer en ‘n oom.
Sy begrafnis word Maandag in die kapel by The Ranch Resort gehou. Daar is ‘n WhatsApp-groep gesig waarop Monique reëlings deurgee, sou iemand meer inligting verlang.
Stuur ‘n boodskap aan 083 263 6470 om deel van dié groep te word.




