N.G Oos Lentemark bring iets vir almal
Met talle nuwe uitstallers kan markgangers verseker wees van kwaliteit Kersgeskenke vir die hele familie teen bekostigbare pryse.

POLOKWANE – Helderblou water en die besigtiging van wilde diere vanuit jou privaat patio vorm deel uit van die Lentemark N.G. Oos (Kremetart) se jaarlikse kompetisie. Dié kompetisie, ter waarde van R8 000 eindig op 4 November om 13:00.
Deelnemers kan ‘n bod insit van ten minste R3 000. Die persoon met die hoogste bod gaan vier salige nagte van rus by Mabalingwe naby Bela-Bela geniet.
Die kompetisie is egter nie al wat dié gewilde mark, wat vanjaar van 25 Oktober tot 4 November gehou word, bied nie.
Met talle nuwe uitstallers kan markgangers verseker wees van kwaliteit Kersgeskenke vir die hele familie teen bekostigbare pryse.
Bekers, T-hemde of ander items kan verpersoonlik word deur jou eie foto daarop te laat druk.
Wat vir talle begin het as ‘n stokperdjie, is nou ‘n bron van inkomste.
Koop ‘n spesiale bord, met ‘n unieke boodskap en maak ‘n geliefde se dag beter, of uitgekerfde seep wat as versiering in die badkamer gebruik kan word of waarmee jy jou hande kan was.
Uit Somerset-Wes is daar leerprodukte vir elkeen se smaak en uit Sasolburg stuur Cadeautjie gehekelde stimulasaieblokke, knuskomberse en bytringe wat as geskenke gegee kan word.
Uniquely Yours met haar naaldwerkitems is elke jaar ‘n wenner en Handcrafted Affordable Creations se oorbelle pas by enige uitrusting.
Vir die jongklomp is daar items soos klei, vir sensoriese spel en Dola linnepoppies help om verbeeldingsvlugte kleur te gee.
Bea sorg vir gekleurde spanbroeke asook armbande. Die Jan en San leesboek saam met ander opvoedkundige boeke en aktiwiteite kan die kinders vir ure besig hou.
‘n Verskeidenheid poppe sal beskikbaar wees en handgemaakte keramieklampe kan ‘n kamer opkikker.
Varsgebakte koeksisters reeds beskikbaar teen R55 ‘n dosyn en by die mark sal daar verskillende soorte souse beskikbaar wees. Koeksisters is nie die enigste soetigheid nie, daar sal ook ander happies beskikbaar wees.
Plante is altyd gewild en soos in die verlede sal daar ‘n groot verskeidenheid vetplante te koop wees.
Met ‘n teetuin en lekker kuiergeleenthede is hierdie mark beslis nie iets wat jy moet misloop nie.
Vir meer inligting, kontak vir Ilze Meyer by 072 216 3714.




