Honde wat in nood kan help
Hondegedragspraktisyn Lucy Breytenbach gesels oor die verskillende omstandighede waarin honde opgelei word om persone by te staan, en hoe die proses werk om een van dié honde te bekom.
POLOKWANE – Dit is alombekend dat honde slim is. Hulle dien immers as gidshonde vir blinde persone en kan die slagoffers van natuurrampe uitsnuffel. Daar is ook honde wat mense met mediese toestande in nood bystaan.

Hondegedragpraktisyn Lucy Breytenbach is die stigter van Honey Garden in Sunningdale, ‘n organisasie sonder winsbejag wat hulle daarop toespits om honde op te lei om mense in nood te help. Sy sê die honde word vir toestande soos tipe 1 diabetes, epilepsie, gehoorverlies, psigiatriese, en fisieke toestande soos veelvuldige sklerose (MS), posturale ortostatiese tagikardie-sindroom (Pots), Ehlers Danlos Sindroom (EDS), paraplegie en lupus opgelei.
“Ons vind uit waarmee die persoon sukkel en bepaal dan of die hond in staat sal wees om te kan help. Elke geval is anders, en ons kan enige soort hond oplei, maar hulle moet die regte persoonlikheid en eienskappe hê.”

Breytenbach sê hulle kry die honde vanaf betroubare telers.
“Ons toets al die honde en daar is ‘n driemaande proeftydperk. Dit neem ongeveer twee jaar om ‘n hond op te lei en daarna kan die nuwe eienaar die hond kry. Die hond kan op agt weke met opleiding begin tot op drie jaar. Die honde se afrigters moet gekwalifiseerd wees as honde-opleiers of gedragskundiges.
“Ons het heelwat honde wat ons vooraf afrig en dan later by ‘n kliënt pas. Wanneer ons dié roete volg, kan ons sien in watter situasie die hond sukses sal hê en dat hulle by die gesin in nood pas. Sodoende hoef die gesin nie so lank te wag vir hulle hond nie. Die hond beskik reeds oor sy Kusa CGC brons/silwer en openbare toegang magtiging, en kan dadelik met sy take begin. Ons pas dan net die res van die behoeftes aan en gradueer wanneer almal gereed is.”

Om ‘n gekwalifiseerde hond aan te skaf is nie goedkoop nie en Breytenbach verduidelik die rede daarvoor.
“Die hond ondergaan twee jaar van intense daaglikse oefening deur ‘n professionele gedragskundige. In daardie tyd moet die hond ook ‘n huis hê en versorg word. Dit is spesialiteitopleiding en die honde moet aan hoë kriteria voldoen om die kwalifiserende toetse te slaag.”
Sy verduidelik verder dat dit tussen R100 000 en R120 000 kos om een hond ten volle op te lei. Families wat die hond aanneem, dra sowat R60 000 by.

Enige persoon met ‘n bietjie ondervinding en gewilligheid om leiding te neem en met opleiding om vir die hond die beste maniere en lewensvaardighede te leer, kan ‘n hond in pleegsorg hê. Baie geduld is nodig aangesien baie van die honde reeds volwasse is, en gevestigde gewoontes het. Jy moet ook in ‘n stadium van die hond kan afstand doen. Verder word die hond se naam deur Honey’s Garden gekies, maar dit kan soms verander.
Daar is verskeie maniere hoe jy kan help:
- Dra finansieel by.
- Borg ‘n familie om ‘n hond aan te neem.
- Maak ‘n babahond groot. Die vereiste is dat jy binne ‘n uur se ry vanaf Honey’s Garden woon.
- Doen vrywilligerswerk by Honey’s Garden. Vrywilligers help om die honde te sosialiseer, te oefen en te stimuleer.
Vir meer inligting en kontakbesonderhede besoek https://medicalalertdogs.co.za




