Local News

Waak teen dié lekkernye vir jou troeteldiere

Troeteldiereienaars kan dikwels nie die versoeking weerstaan om vir hulle troeteldiere ‘n lekkerny te gee nie. In hierdie berig is ‘n lys van kosse wat jy liefs behoort te vermy.

POLOKWANE – Met groot, blink oë vasgenael op die lekkerny in jou hand, sit Flaffie en bedel dat die spoeg loop.

Felix die kat draai ook om jou rond, al bedelend vir ‘n happie soetigheid. Aanvanklik maak jy nie eers oogkontak nie, maar so by die laaste blokkie sjokolade, kry albei ‘n happie – dis immers Kersfees en jou dierekinders mag ook bederf word.

Ongelukkig kan dié lekkerny vir Flaffie en Felix in die hospitaal laat beland, of selfs erger.

Polokwane Observer het by Elandi Dokter, veeartsverpleegkundige gaan kers opsteek oor watter kosse jy eerder nie vir jou troeteldierebehoort te gee nie.

“Die simptome wat Flaffie sal toon na hy enige van die verkeerde kossoorte geëet het, sluit in braking, diarree, lusteloosheid, verhoogte dors, abdominale ongemak, koors, rusteloosheid, spiersametrekkings en selfs aanvalle. Alkoholvergiftiging kan orgaanversaking veroorsaak en kunsmatige suiker kan lewerskade tot gevolg hê.”

Hier is vir jou ‘n nuttige lys van wat om eerder te vermy:

  • Sjokolade: “Dit is ‘n welbekende feit dat sjokolade sleg is vir honde en die hoeveelheid wat hy inkry, bepaal die simptome.
    Hoe donkerder die sjokolade is, hoe slegter is dit vir jou hond aangesien dit meer kafeïen en theobromien, wat beide giftig is vir diere, bevat. Dit is ook om hierdie rede dat honde eerder moet wegbly van koffie af.”
  • Druiwe en rosyntjies: “Alhoewel druiwe en rosyntjies nie altyd skadelik vir honde is nie, kan dit nierversaking veroorsaak. As die simptome nie betyds behandel word nie, kan ontwatering intree en hulle eetlus verminder. As Flaffie hierdie simptome toon, vat hom dadelik veearts toe. Hy kan nierversaking ontwikkel.”
  • Alkohol: “Klein hoeveelhede alkohol wat in sekere kosse voorkom, kan giftig vir Flaffiewees. Etanol kan alkoholvergiftiging veroorsaak. Die gis in die brooddeeg kan veroorsaak dat sy maag opswel, wat in weefselskade kan ontwikkel.”
  • Xylitol: “Baie mense vervang hulle suiker met kunsmatige suiker soos xylitol. Dit word gebruik in ‘n verskeidenheid suikervrye produkte en word selfs in tandepaste, hoesstroop en koubare vitamienes gevind.”
  • Uie en knoffel: “Baie mense hou daarvan om hulle kos met uie en knoffel te geur, maar ook dit is skadelik vir Boela. Dit veroorsaak gastroenteritis, bloedarmoede en skade aan die rooibloedselle. Tekens van vergiftiging kom gewoonlik eers later voor en sluit in lusteloosheid.”
  • Ander kosse wat gevaarlik is:

Suiwelprodukte kan Flaffie se maag omkrap.

Makadamianeute kan swakheid, verlamming en ‘n gebrek aan koördinasie veroorsaak.

Avokadopere kan ook sy maag kan omkrap.

“Bene van vleis, hoender en vis kan gevaarlik wees vir jou hond, aangesien dit kan afsplinter en in die keel vassteek, tande breek of die ingewande beskadig.”

Volgens haar is vis ook sleg vir katte.

“Tuna is hoog in kwik, ‘n chemiese element wat algemeen in die omgewing voorkom as gevolg van besoedeling. In hoë hoeveelhede kan dit giftig wees vir katte en dus kan dit onveilig vir hulle wees om tuna, een van die spesies visse met die hoogste kwikvlakke, te eet.”

Sy sê gewone tuna bevat nie die nodige voedingstowwe, anti-oksidante en vitamiene wat jou kat nodig het nie. Sonder hierdie voedingstowwe kan jou kat ondervoed raak en ander mediese probleme ontwikkel.

“Tuna is ook hoog in onversadigde vette. Om vetterige kos te eet kan spysverteringsprobleme veroorsaak. Hoëvetdiëte kan tot pankreatitis in katte lei. Katte wat gereeld tuna eet, kan ook steatiet ontwikkel wat inflammasie in die spysverteringskanaal ontwikkel.”

Aangesien tuna so lekker is, sê sy, kan jou kat daaraan verslaaf raak. Sou jou kat aan tuna verslaaf is, kan hulle weier om ander kos te eet.

Hoe om tuna op ‘n veilige manier vir jou kat te gee:

  • Bied dit aan slegs as ‘n lekkerny.
  • Gee net die tuna in water, nié die wat in olie is nie.
  •  Moet nooit vir jou kat rou tuna gee nie, aangesien dit gevaarlike bakterieë bevat. Alle rou vis is ongesond vir katte             aangesien dit ‘n ensiem, thiaminase, bevat. Dié vernietig thisamien, essensiële olie en vitamiene wat jou kat benodig
  •  Monitor jou kat se ontlasting nadat hulle tuna geëet het.
For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button