Local News

Veearts Cornelis sluit aan by Wolkberg Dierekliniekspan

Cornelis sê as veearts is dit lekker om met die babahondjies te speel, maar hy hou daarvan om voorkomende behandeling toe te pas.

POLOKWANE – ‘n ‘Township’-hondjie is boaan Cornelis Pauw (25) se wenslys vir wanneer hy en sy vrou, Melise, die dag besluit om vir hulle ‘n troeteldier aan te skaf.

Pauw het onlangs by die Wolkberg Dierekliniek se span as veearts aangesluit, waar hy vir die volgende jaar die gemeenskap se diere gaan help.

Hy het grootgeword in Pretoria waar hy skool gegaan het, en daarna by die Universiteit van Pretoria (Tuks) by Onderstepoort aangesluit.

“Om ‘n veearts te word was nie altyd my droom nie, maar ek geniet die fisiese wetenskappe en het iewers tussen gr. 9 en gr. 11 finaal besluit om in hierdie rigting te gaan.”

Melise is ook ‘n veearts en is tans besig met haar staatsdiensjaar in Bochum. Die twee het op universiteit ontmoet en onlangs getrou.

Cornelis sê hy verkies om met produksiediere soos skape, bokke en beeste, te werk.

“As veearts is dit lekker om met die babahondjies te speel, maar ek hou daarvan om voorkomende behandeling toe te pas. Ek wil dit wat ons kan verander om ‘n siekte te voorkom, toepas. Ek hou van kuddegesondheid.”

Hy meen dit is ‘n slegte ervaring om te sien hoe ‘n dier ly en dan uitgesit moet word.

“Ek was onlangs by ‘n persoon met ‘n skaap wat se poot in verbande toegedraai was. Toe ons dit oopmaak, het sy voet en onderbeen sommer afgekom. Ons kon nie hierdie dier red nie. Om te sien hoe ‘n dier keelaf gesny word, is ook nie lekker nie. ‘n Mens leer maar jou emosies beheer.”

Nadat hy ‘n paar minute gedink het, sê hy die vreemdste ding wat hy al gesien het, was ‘n bees met ‘n misvormde gesig wat ‘n normale lewe gehad het.

Cornelis is ook van mening dat opregte troeteldiere baie meer probleme het, en daarom is sy raad om eerder ‘n straatbrak of ietwat-minder-opregte Flaffie aan te skaf.

In sy vrye tyd spandeer hy tyd saam met Melise. Hulle is ook lief vir voëlskyk en lees.

Volgende jaar gaan hy met eksotiese- en wilde diere werk by ‘n praktyk wat ook in produksiediere gaan spesialiseer.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button