5 eienskappe van ‘n opstaanvrou volgens skrywer
Yolande Britnell-Steyn het Saterdagoggend by Oosskool vyf eienskappe van 'n opstaanvrou bespreek.
POLOKWANE – Wanneer jy by ‘n vriendin kuier en sy sit die ketel aan, dan weet jy daar wag nie net ‘n heerlike koppie tee of koffie nie, maar ook ‘n gerusstellende oor wat met wysheid saamgaan.
Met die woorde ‘ek sit vir ons die ketel aan’ nooi jou vriendin jou om jou hart oop te maak, en vroue in die stad het Saterdagoggend by Oosskool se saal bymekaar gekom waar hulle in groot opwagting vir Yolande Britnell-Steyn gewag het.
Dié geleentheid, waartydens die gewilde blogskrywer alles van vrouwees in eerlike skryftaal vertel, is deur Osietedies Kleinkindontwikkelingsentrum gereël en was ‘n behoorlike bederf.
“Ons is elkeen gebore met ‘n waarheid en jy kan nie iemand anders se waarheid joune maak nie. Sif dit wat ek vir jou sê, dit wat op jou van toepassing is, en laat gaan die res.”
Yolande erken daar is drie dinge waarvoor sy kaalvuis sal baklei: haar drie kinders, die waarheid en ander vroue.
“Ek het alles op 37 jaar verloor, met drie klein kinders. Ek het gaan lê, terwyl die donker my lewe infiltreer het. Maar na ‘n ruk het ek besluit om terug te veg. As ‘n vrou wat lê, opstaan, kry sy krag van binne. Die Here het ‘n plan. Soms moet ons eers neerstort om te begin bou tot waar ons moet wees.”
Sy verwys na ‘n valse vrou, ‘n vrou wat voorgee. “Jy kan nie vir altyd voorgee nie. Jy kry vroue wat afgunstig is, maar ons as vroue moet ander help. Ons moenie iemand agter los nie.”
Yolande bespreek vyf eienskappe van ‘n opstaanvrou.
1. Hierdie vrou aanvaar haar uitdaging. “Sy is nie ‘n slagoffer nie. Sy wil gesond word en besluit om haarself nie met ander te vergelyk nie.”
2. Sy trek haar vinger uit haar wond. “Jy moet gesond word, en as jy heeltyd aan jou wond karring, gaan jy nie gesond word nie. Verander jou storie na ‘n gesonde storie toe.”
3. Die vrou vergewe haarself. “’n Mens kan ‘n bitter mens sien. Sy het sulke dun lippe. Moet nie wag vir iemand anders om om vergifnis te vra nie. Vergewe jouself. Dit bring vryheid en vryheid bring vlerke.”
4. Sê ja vir God. “Sê hardop ja vir God, maak ‘n verbintenis met Hom.
5. Wat is jou doel. “Jou doel moet meer wees as jou man en kinders. Staan op vir iets wat groter is as jyself. Los die plek beter as wat jy hom gekry het en los iets agter vir die wat na jou kom.”




