Local News

Jong Annalize Wagner sal vir altyd onthou word

Annalize Wagner se ouers moes haar ‘n laaste keer groet toe sy onlangs, kort na haar eerste verjaarsdag oorlede is.

POLOKWANE – Waar ander eenjariges hulle verjaarsdag gewoonlik met ‘n partytjie, geskenke en ‘n lekker koek kan vier, moes die jong Annalize Wagner dié dag op 20 Maart in die hospitaal deurbring.

Haar ouers en die hospitaalpersoneel het haar kamer versier met pienk ballonne en die verpleegpersoneel het vir haar gesing en borrels geblaas terwyl hulle gesorg het vir ‘n kolwyntjie met ‘n kersie op.

Slegs drie dae later moes haar ouers, Patricia en Johnny, hartseer afskeid neem toe haar liggaam net te swak was om verder te veg en sy oorlede is.

Polokwane Observer het verlede jaar berig oor Annalize wat met proksimale trageomalasie en laryngomalasie gebore is.

Sedert haar geboorte is sy gereeld opgeneem vir behandeling vir brongopneumonie.

Patricia sê sy is elke maand vir ‘n week opgeneem omdat sy brongopneumonie, oftewel longonsteking gehad het. Sy was permanent aan die hoëvloeistuurstof masjien gekoppel wat hulle spesiaal vir haar aangeskaf het.

“In Januarie vanjaar het ons weer ‘n slaapstudie gedoen. Ons het teruggegaan na die Sunninghill Hospitaal waar dokters ‘n brongoskopie gedoen het om te kyk of haar lugweg ontwikkel het. Die dokter het opgemerk dat daar iets is wat die lugweg toedruk en ‘n CT-skandering en sonar is gedoen.”

Patricia sê daar is gevind dat Annalize ‘n vergroeisel in haar lugwegweefsel het wat die lugweg toedruk. ‘n Oor-neus-en-keelsjirurg het haar lugweg met laser 50% groter gestrek.

“Hy het die vergroeisel afgeskuur, maar hulle kon nie ‘n biopsie doen nie. Na die operasie het Annalize so mooi asem gehaal dat sy van die hoëvloeistuurstof masjien asook gewone suurstof af was. Sy was ‘n ander kind.”

Ongelukkig het sy op 5 Maart weer swaar begin asem haal en met opstaantyd die volgende dag was Annalize se bors ingeduik, ‘n duidelike teken van probleme met haar asemhaling.

“Ons het die pediater by Mediclinic Kloof Hospitaal gaan sien en Annalize is opgeneem. Sy is weer met longontsteking in beide longe gediagnoseer. Nadat daar weer ‘n CT-skandering gedoen is, het ons die slegte nuus gekry dat die vergroeisel weer gegroei het en haar lugweg toedruk.”

Annalize is weer teater toe waar ‘n biopsie sou wag om te sien of die vergroeisel kwaadaardig was.

“‘n Professor het gevind dat die vergroeisel buite die lugweg geleë is en hulle dus haar keel van buite sou moes oopsny om by die vergroeisel te kom. Ongelukkig was daar komplikasies met haar longe en is die operasie eers gestop sodat haar longe kon herstel.”

Op 18 Maart is sy weer teater toe, maar die dokters kon weer nie die gewas verwyder nie. Patricia sê die enigste oplossing om haar dogter te help ‘n tydelike trakeostomiebuis was.

“Sy het medikasie gekry met die hoop dat die gewas sal krimp. Tydens die laaste operasie kon die dokter darem ‘n biopsie doen. Maar met die trakeostomiebuis kon Annalize nie eers huil of praat nie.”

Annalize se regterlong het na die laaste operasie platgeval en die professor het ‘n dreineringspyp ingesit. Sy moes weer op ‘n ventilator wees tot haar long reg is.

Patricia sê die biopsieuitslag was dat die gewas nie kwaadaardig is nie, maar die dokters wou ‘n groter biopsie doen.

“By die tragea het hulle nie ‘n kleppie (cuff) ingesit nie aangesien haar keel te klein is. Hulle sou haar op ‘n CPAP-masjien sit, maar hulle kon dit eers doen wanneer haar long gereed was.”

Op 22 Maart het Patricia egter ‘n boodskap aan familie en vriende gestuur om te sê dat Annelize ‘n terugslag gehad het.

“Haar regterlong is weer sleg. Sy het vanoggend gesukkel met asemhaling. Haar tragea was verstop en sy kon nie suurstof kry nie. Die nagsuster het nie die tragea gereeld skoon gehou nie, en sy moes ‘n nuwe een kry,” het sy geskryf.

Annalize se begrafnis is op 29 Maart gehou. Die Wagnergesin se mediese skuld beloop tans R112 000, aangesien nie al hulle uitgawes deur die mediese fonds gedek word nie.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

Back to top button