Local News

Josef Espag se lewe gevier

Behalwe vir sy vrou, kinders en skoonkinders, word Josef ook oorleef deur 28 kleinkinders.

POLOKWANE – Jarelange bekende inwoner, Josef Espag (79) is op 6 April skielik na ‘n beroerte oorlede.

Hy is in 1944 in Pretoria gebore en het na skool by die Universiteit van Pretoria asook deur Unisa studeer.

Hy het sy klerkskap onder Tjol Lategan voltooi en is in Januarie 1973 as prokureur toegelaat.

Een van sy vennote, Johann van Staden, sê Josef het in Maart daardie selfde jaar vennoot geword by die firma wat toe bekend gestaan het as Lategan en Espag.

Sy dogter, Adri Lambrecht, sê saam het haar ouers vier kinders gehad.

“Na my ma, Annatjie se dood het my pa, in 1980, met Renette Geyer getrou en hulle het saam ‘n seun, Willem, gehad. My pa en Ma Renette het mekaar se kinders wettig aangeneem en ons was skielik ‘n lekker groot familie van agt dogters en drie seuns wat Sondag na Sondag die kerkbank vol gesit het.”

Sy onthou haar pa het ‘n groot liefde vir visvang en diepseehengel gehad en het ook sy SA-kleure in diepseehengel behaal.

“Behalwe hiervoor het hy baie van tuinmaak gehou en begin om met orgideë te boer en te skou. Sy liefde vir die natuur het veroorsaak dat hy die plaas Windhoek naby Baltimore koop waar hy en my boetie Josef met beeste geboer het. Daar is natuurlik lekker gejag ook.”

Sy vertel Josef was ‘n streng en beginselvaste pa wat geglo het in tradisie, kultuur en geloof. Reg was reg en verkeerd was verkeerd. Tog het die kinders goeie herinneringe van bordspeletjies speel, lag en gesels voor ‘n kaggelvuur.

“My pa was ‘n regte terggees en baie lief daarvoor om poetse te bak. My pa het my geleer dat as jy jou doelwit in die lewe wil bereik dit net deur harde werk en deursettingsvermoë kan plaasvind. Ons kinders is dankbaar dat hy seker gemaak dat ons kon gaan studeer.”

Sy voorbeeld het baie verder gestrek. Hy was vir etlike jare die beheerliggaam voorsitter van Oosskool en Hoërskool Pietersburg, waar hy gewys het dat dit van jou verwag word om terug te ploeg in die gemeenskap.

Van Staden onthou hoe Josef as voorsitter van die Verre-Noord Diepseesportvishengelvereniging en die Transvaalse Skiboot Hengelvereniging gedien het.

“Hy was ‘n streng maar regverdige man met ‘n goeie hart. Hy het ook ‘n goeie humorsin gehad,” onthou Esmé Engelbrecht wat van 1998 saam met Josef gewerk het.

Tumelo Magwai het sy klerkskap in 2004 onder Josef begin en erken Josef was nooit kwaai met hom nie.

“Hy het na sy aftrede my elke jaar op my verjaarsdag gebel. Hy moes al siek gewees het toe hy my die laaste keer gebel het.”

Marina Calitz het 28 jaar saam met Josef gewerk en sê hy was altyd opgewonde en dit was ‘n eer en ‘n voorreg om saam met hom te werk. “Hy was beginselvas en ons het die wêreld se respek vir hom.”

In 2010 tree hy af as prokureur en na sy en Renette se egskeiding het hy in 2013 met Isabel Vorster getrou en na Hennenman verhuis. As afgetrede prokureur het hy ernstig met clivias begin boer en geskou.

Adri sê die laaste jaar was ‘n swaar pad nadat Josef in 2023 hartversaking opgedoen het en bykans vyf maande in die hospitaal was.

“Hy kon aanvanklik nie loop nie en was afhanklik van addisionele suurstof. My pa het wilskrag gehad en bo verwagting van die dokters kry hy dit reg om op sy eie weer asem te haal asook met die hulp van ‘n versorger en ‘n loopring te loop. Net voor Kersfees het hy egter ‘n terugslag gehad en ligte beroerte en was hy weer bedlêend. My pa het egter nie bly lê nie en weer net begin staan en stadig loop met sy loopring toe hy ‘n massiewe beroerte op 3 April gehad het.”

Sy sê Josef het ‘n vol lewe gehad en dit is nou sy tyd om by God se voete te gaan rus.

“God was goed vir my pa om hom die jaar te gee om seker te maak hy gaan in vrede.”

Behalwe vir sy vrou, kinders en skoonkinders, word Josef ook oorleef deur 28 kleinkinders.

Sy lewensvieringsdiens vind op 20 April om 11:00 vanuit die N.G. Kerk Henneman-Oos Gemeente plaas.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

Related Articles

 
Back to top button