Motorfietsfamilie span saam vir ‘Run for Bennie’
Herman Steyn, organiseerder van Run for Bennie vertel dat hy al 'n ruk met die gedagte rondloop dat daar soveel keer praatjies is van ons-moet-nog-kuier, maar niks realiseer in hierdie besige tye nie.
MOKOPANE – Die motorfietsfamilie het Saterdag saamgespan om hul ondersteuning te wys vir die welbekende Bennie Venter wat tans ‘n pad met kanker stap.
Die gebrul van sowat 20 motorfietse kon gehoor word toe die manne en vroue die pad na Koelemansrust buite die dorp neem.
Herman Steyn, organiseerder van Run for Bennie vertel dat hy al ‘n ruk met die gedagte rondloop dat daar soveel keer praatjies is van ons-moet-nog-kuier, maar niks realiseer in hierdie besige tye nie.
“Die laaste ruk het ons gereeld langs grafte gestaan van medemotorfietsryers wat oorlede is. En jy staan langs daardie graf met die gedagte dat jy nog by daardie vriend moes gedraai het en bietjie gaan gesels het, maar tyd is teen ons en as ons, ons oë uitvee dan staan jy langs ‘n graf. Dit het my aan Bennie laat dink. Ek het al soveel male gedreig om by hom te gaan kuier, en die nuus van sy kanker het my aangespoor om aan hierdie jarelange vriend van my te wys ons as die motorfietsfamilie staan bankvas agter hom.”
Herman verduidelik dat Bennie al soveel vir liefdadigheid gedoen het oor die jare.
“Die brille en pille, die bierfees en die byjol is van die byeenkomste wat hy jare terug begin het en vandag steeds elke jaar sterk staan en alles is vir liefdadigheid. Nou is hy gediagnoseer met borskanker en hoekom nie hierdie legende wys dat, hoewel ons gesukkel het om die nuus te glo omdat dit eintlik vroue is wat borskanker kry, ons as sy motorfietsfamilie hom ondersteun.”
Toe Bennie Venter dié diagnose in Oktober ontvang, het dit om verskeie redes as ‘n skok gekom, vertel hy.
“Hoe is dit moontlik? Van wanneer af kry mans ook borskanker? Op 61 het ek ‘n gesonde leefstyl gelei en nooit gedink borskanker sou by my as man gediagnoseer kan word nie.”
Hy vertel dat hy die knop in sy regterbors gevoel, en sy vrou daarvan ingelig het.
“Sy het voorgestel dat ek dadelik die plaaslike dokter gaan sien, en dié het my dadelik verwys vir toetse. Die uitslae was positief vir derdegraadse borskanker.”
Dr Fatima Hoosain, spesialischirurg sê hoewel borskanker oorwegend as ‘n vrouetoestand beskou word, raak dit mans ook. “Die risiko is egter laag in vergelyking met ander, meer algemene tipes kanker.”
Sy voeg by dat die nasionale kankerregister verklaar dat die lewenslange risiko vir mans 1 uit 500 is.
“Mans op enige ouderdom kan borskanker ontwikkel maar dit word gewoonlik by mans tussen 60 en 80 jaar oud opgespoor.” Sy moedig mans aan om dadelik mediese hulp te soek as daar ‘n knop in die bors is, “moenie wag tot dit te laat is nie”.
Bennie het die besluit geneem om geen chemoterapie of bestraling te ondergaan, of die knop te laat verwyder nie.
Hy is tans onder die behandeling van ‘n dokter op Bela-Bela en hoewel die stryd vir hom nog voorlê, is daar al hoop.
“Die knop het al gekrimp en is nie in die weefsel in nie.” Hy bedank ook elke motofietsryer wat saam met hom die pad stap en hom ondersteun in sy stryd.




