Gemengde gevoelens oor afsterwe van ‘kriptobedrieër’ Johan Steynberg
Inwoners wat Steynberg geken het, is geraak deur sy afsterwe, terwyl dit ander koud gelaat het.
POLOKWANE – Die nuus dat ‘kriptobedrieër’ Johan Steynberg, ‘n boorling van die stad, verlede Maandag in Brasilië aan ‘n hartaanval beswyk het, is met gemengde gevoelens in die plaaslike gemeenskap ontvang.
Inwoners wat Steynberg geken het, is geraak deur sy afsterwe, terwyl dit ander koud gelaat het.
“Ek dink aan diegene wat baie geld verloor het en tans in armoede gedompel is, maar besef ook dat dit onverantwoordelik is om jou spaargeld en selfs geleende geld in ‘n skema te belê wat te goed is om waar te wees,” mee een inwoner en voeg by dat dit onwys is om al jou geld in een belegging of skema te plaas.
“’n Mens moet werk vir jou geld en ek het geen simpatie met mense wat hul geld weens gierigheid verloor het nie,” meen ‘n plaaslike sakeman en beveel aan dat mense eerder hul geld by ‘n geregistreerde bank belê.
“Die nuutgestigde Korporasie vir Depositoversekering wat op 1 April totstandgekom het, beskerm nou die geld van beleggers tot ‘n bedrag van R100 000 indien ‘n bank vou soos in die geval van VBS,” het hy bevestig.
Beide die Valke en die Nasionale Vervolgingsgesag kon nog nie amptelike bevestiging van Steynberg se dood verskaf nie en gerugte doen ook reeds die rondte dat Steynberg se dood ‘n versinsel is om vervolging te vermy en ‘n nuwe identiteit te skep.
Steynberg was die brein agter Mirror Trading International (MTI) wat allerweë as die grootste Ponzi-skema ooit, beskou is.
Volgens berigte het Steynberg, wat in 2020 na Brasilië uitgewyk het nadat probleme met MTI opgeduik het, minstens 29 421 bitcoin ter waarde van meer as R8 miljard van beleggers uit Suid-Afrika geswendel.
MTI is in Junie 2021 gelikwideer en in April verlede jaar as ‘n onwettige Ponzi-skema varklaar en Polokwane Observer kon nie daarin slaag om enige plaaslike beleggers te identifiseer nie.
Die sluier is getrek oor mense wat uitbetalings ontvang het, hoewel reeds meer as 8 000 eise volgens die likwidateurs reeds bewys is.
Dit blyk dat die beleggers wat opbrengste uit die skema gemaak het, in die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (Sars) se visier is.




