90 kersies vir Tannie Susie Wentzel

Tannie Susie Wentzel het haar verjaardag onlangs gedurende die VLU Pietersburg-Noord oggendtak se maandelikse vergadering, saam met haar VLU- vriendinne gevier.

POLOKWANE – Tannie Susie Wentzel is op 90 nog op en aan die gang, en reeds lid van die VLU vir meer as 40 jaar.

Sy het haar verjaardag onlangs gedurende die VLU Pietersburg-Noord oggendtak se maandelikse vergadering, saam met haar VLU- vriendinne gevier. Behalwe vir die heerlike eetgoed is Tannie Susie ook met ‘n heerlike sjokoladekoek bederf.

“Dit is vir ons n groot voorreg om haar verjaarsdag saam met haar te vier. Sy het soveel kennis aan ons oorgedra en ons het deur die jare baie by haar geleer,” het Rina Botha, een van die VLU-lede opgemerk.

Tania Engelbrecht wys hier hoe haar voltooide sakkie lyk. Foto: Verskaf.

Sy voeg by die tak hoop om nog baie lank van al Tannie Susie se wyshede te ontvang.

“Dit is ook waaroor die VLU gaan – om die volgende generasies te leer.”

Die vroue het egter nie net partytjie gehou nie, maar ook geleer hoe om ‘n afvalgaresakkie met ‘n speldekussing te maak. Dit is een van die kompetisie-artikels vir volgende jaar en hiervoor moes hulle naaldwerkmasjiene inspan.

“Gerda Vos het die vroue touwys gemaak oor al die reëls van masjienwerk en gesorg dat elkeen se sakkie aan VLU-standaarde voldoen,” het Rina afgesluit.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version