‘Om jou lewe om te keer, is moontlik’ – Ivor Swartz

Ivor het verlede week by Hoërskool Pietersburg kom aanklop waar hy sy verhaal met die leerders gedeel het – 'n verhaal van verkeerde keuses, misdaad en terugkeer na God.

POLOKWANE – “Ek sou eerder doodgaan as om te voel ek behoort nie.”

Ivor Swartz is op die jong ouderdom van 13 gearresteer en skuldig bevind op die moord van sy ouer broer.

In die tronk word hy deel van die berugte 26-bende, want, in sy eie woorde, was die behoefte om te voel hy behoort êrens, groter as die dood.

Na ses-en-‘n-half jaar in vier tronke en een vrou wat in hom glo, verander hy egter sy lewe handomkeer.

Ivor het verlede week by Hoërskool Pietersburg kom aanklop waar hy sy verhaal met die leerders gedeel het – ‘n verhaal van verkeerde keuses, misdaad en terugkeer na God.

Die religie komitee wat vir Ivor Swartz na PHS genooi het. Anja Wiese, Kiandra Smit, Kara Swanepoel, Cecille Venter en Micaela Smit.

Hy het vertel hy is die middelste van drie kinders.

Toe sy jonger broer, Peter 10 jaar oud was, word hy vir diefstal gevang en na die rehabilitasiesentrum, Boys Town gestuur.

“Toe hy in ‘n stadium weer by die huis kom, het hy tatoeëermerke gehad. Ons ouer broer, Deon, het dit gesien en was onmiddellik ongelooflik kwaad. Hy het ‘n plastieksak gevat en aan die brand gesteek en die gesmelte plastiek op Peter laat drup en hom gebrand.”

Ivor noem hoe ‘n mens se omstandighede “soms harder skree as God se woord en waardes”.

Na die episode tussen Peter en Deon, het Ivor besluit om eerder uit die huis te vlug, op soek na aanvaarding elders.

“Ek het op straat opgeëindig en moes kriminele dinge doen, maar ek het vir die eerste keer gevoel ek behoort êrens. Daar word mos gesê as dit reg voel om te doen, is dit reg. Dit is egter nie waar nie. Jy moet doen wat reg is al is dit teen jou gevoelens.”

Hy het by sjebiens rondgehang waar hy dagga gerook, en gedrink het, “dis dié middels wat jou gevoelens doodmaak”.

Hy het vir Deon gehaat en toe dié moeilikheid soek, skiet Ivor hom koelbloedig dood.

“Ek het altyd daarvan gedroom om vir my ma ‘n huis te koop, maar na my soeke vir aanvaarding, het ek weggedwaal van my waardes. My ma is oorlede terwyl ek in die tronk was. Ek het na verkeerde stemme geluister. In die tronk was ek in eensame opsluiting. Almal het moed opgegee met my, maar daar was een vrou, Yolanda Freysen Hugo, wat nie opgegee het nie.”

Lewenslesse wat Ivor geleer het, sluit in dat elke mens keuses het.

“Dit is nie jou omstandighede wat jou toekoms bepaal nie, maar jou keuses. Jy het die vryheid om te kies, maar jy is nie vry van die nagevolge van jou keuses nie. As jy sou doodgaan, wat is die storie wat jy agterlaat? Moenie alles glo wat jy hoor nie, mense sit ‘n etiket om jou nek wat nie altyd waar is nie. Lewe jou talente en uitgawes uit,” het hy afgesluit.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version