‘n Natneussoen vir Moedersdag
Terwyl sommige ma’s Sondag met ‘n heerlike ontbyt in die bed bederf gaan word, gaan die 10-jarige Boston Terrier, Elvis, sy ‘ma’ waarskynlik met ‘n natneussoen bederf.
POLOKWANE – Hierdie Sondag word Moedersdag wêreldwyd gevier – ‘n dag waarop ma’s kinders bederf word.
Terwyl sommige ma’s ontbyt in die bed kan verwag, is daar ‘n spesiale groep ma’s wat met natneussoene gaan wakker word.
Een so ‘n ma, is Corné Schoeman. Behalwe vir Stephane, haar ‘regte’ kind wat ‘n tweedejaaronderwysstudent aan die Noordwes Universiteit se Potchefstroomkampus is, is daar ook kleinboet Elvis.
Dié is ‘n 10-jarige Boston Terrier, en sy ma se hart se punt.
“Elvis het ‘n pragtige persoonlikheid en ‘n kostelike manier om met jou te praat. Hy beland onmiddelik in die sewende hemel as iemand sy rug vir hom krap en hy speel graag met sy tou wat hy na hartelus kan byt.”
Corné en haar gesin moes onlangs afskeid neem van Bruno, ook ‘n Boston Terrier wat sy stryd teen kanker in Desember verloor het, en oor die reenboogbrug moes oorsteek. En 10 jaar gelede moes Corné afskeid neem van haar eerste hondekind, Diesel, na hy ‘n dag voor Kersfees, na ‘n tragiese motorongeluk oorlede is.
“Elvis het aan die begin baie vir Bruno gemis. Hulle was van dieselfde werpsel. Hy het heeltyd na Bruno gesoek, maar dit gaan deesdae beter.”
Corné sê na Bruno se afsterwe, is die gesin se harte nog te seer en is ‘n nuwe baba hond nog nie in die vooruitsig nie.
“Elvis kry nou al die aandag as senior ctizen, en hy maak ons harte vol liefde. Hy kry Montego se senior hondepille en word af-en-toe bederf met ‘n weense worsie. Sy bed is natuurlik in die huis, op die bank en op sy eie komberse.”
Corné gaan dalk nie Sondag deur Elvis met koffie en ontbyt in die bed bederf word nie, maar ‘n swaaistert en opgewonde verbytrippel is vir haar bykans net soveel werd en terwyl Stephane in Potchefstroom woon, is Elvis beslis die baas van dié plaas.