Local News

Koerantman Deon word só onthou

Deon is in 2006 met diabetes gediagnoseer en is middel verlede jaar met longkanker gediagnoseer.

POLOKWANE – Op 72 jaar sou mens kon glo dat Deon Kruger reeds alles in die lewe gesien en beleef het. Met sy werk by ‘n koerant kan ‘n mens nie anders as om te weet hy was ‘n welbelese man nie.

Sy familie het hom egter onlangs aan die dood afgestaan.

“Met hierdie eerste Vadersdag het die seer van verlang weer sterk deurgekom, en dink ons aan al die goeie tye saam,” vertel Riaan, Deon se seun.

Na skool het Deon begin werk as fotolitograaf en sy kinders onthou hoe hulle dikwels in Polokwane Review en by die Morester drukkery se donkerkamers saam met hom was.

Deon was vir 50 jaar met Elmarie getroud en hulle het mekaar ondersteun in hulle albei se onderskeie stryd teen kanker.

“‘n Maklike manier om te verduidelik wat hy gedoen het, is om te sê hy het afbeeldings van die koerantblaaie op staalplate gemaak, en dan afdrukke daarvan gemaak. Ek onthou hoe ek dikwels as jong kind saam met hom in die donkerkamer tyd deurgebring het.”

Deon is in 2006 met diabetes gediagnoseer en moes ‘n operasie ondergaan nadat hy inflammasie in sy bene ontwikkel het. Hy het ook vir 50 jaar gerook en is middel verlede jaar met longkanker gediagnoseer.

“My pa was in baie pyn en was in en uit die hospitaal. My ma is ‘n paar jaar vroeër ook met kanker gediagnoseer en my pa het haar deur die hele stryd gedra.”

Deon was lief daarvoor om vis te vang en het in 1984 die Anguilla Hengelklub gestig en Riaan sê hulle het omtrent langs die dam grootgeword.

“My pa was ‘n goeie man met ‘n sagte hart. Hy het ons as gesin altyd ondersteun. Ons mis ons saamwees tye, veral ons braaikuiertjies. Hy het seker gemaak ons weet hoe om hoender te braai sonder om dit eers in die mikrogolf te sit. Ek dink dit wat ons die meeste mis is sy algehele teenwoordigheid en sy raad, veral finansiële raad. Hy was ‘n goeie vriend vir ons kleinkinders en ons is dankbaar vir wat hy vir ons gedoen en gegee het. Hy was ‘n baie liefdevolle oupa vir sy twee kleinkinders en sy eerste agterkleinkind is ‘n kort rukkie na sy afsterwe gebore.”

Deon word oorleef deur sy vrou, drie kinders en hulle gades, vyf kleinkinders en een agterkleinkind.

“Ons gaan mekaar weer ontmoet, maar tot dan sal ons vashou aan al die kosbare herinneringe.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Tanaiya Lees

Tanaiya Lees is the Digital Coordinator for the Polokwane Review-Observer and the Letaba, Phalaborwa, Hoedspruit, Mopani, and Regional Herald. She holds a Diploma in Journalism, and a BA in Communications and Psychology. With an interest in storytelling and a strong commitment to accuracy, her goal is to produce high-quality content that truly connects with readers. She aims to amplify the voices of those who need it most, shine a light on important issues, and inspire meaningful conversations. Tanaiya firmly believes in the power of journalism to effect change and is dedicated to being a part of that change.

Related Articles

Back to top button