Prof. Carl Franz sterf op 94
Prof. Carl Franz is plaaslik en internasionaal vereer vir sy navorsing, onder andere in 1986 deur die Oostenrykse Chirurgiese vereeniging.
POLOKWANE – Familie, vriende en oudkollegas het verlede Woensdag in Pretoria ‘n oomblik stilgeraak om ‘n huldeblyk aan ‘n formidabele navorser, medikus, vader, oupa en grootvader te lewer tydens ‘n gedenkdiens vir Prof. Carl (Callie) Franz wat in die ouderdom van 94 jaar oorlede is.
Robert Carl Franz is op 11 Desember 1929 op ‘n sendingstasie in die distrik Bochum in die destydse Noord Transvaal gebore.
Sy geboorteplek, die land van Senwabarwana was ‘n mooi land. Die gras het hoog gestaan en die blinkvet rooibokke was volop.
Dis hier waar hy en sy geliefde broer, Piet, saam met Robinson op ‘n jong ouderdom self met die Bedfordtrok gaan jag het en snags om die kampvuur gesit en luister het na staaltjies van die Franz-familie en die bosveld. Dit was ook sy Sotho-leerskool.
Sy eerste twee skooljare in 1936 was op Dalmeny Laer.
Hy is per fiets in die mandjie tot op die plaas Uitsoek aangery en vandaar met die donkiekar tot op Dalmeny. (Die donkies was Jacob en Essau). Die afstand skool toe was ongeveer 15km. Padlangs het hul hase gejag, miershope bekyk en die natuur beleef.
“Ek sou sê dit was die beste “Ivy League-leerskool vir natuurwetenskap,” reken sy dogter, Elsa Jordaan.
Sy ma het aangedring op ‘n wit hemp en skoene, terwyl die ander kinders almal kaalvoet en khaki gedra het. Sy het toe al besef, “my son, you are destined for big things”.
Die res van sy laerskooljare is voltooi aan Pietersburg Laerskool en sy hoërskooljare aan Pietersburg Hoërskool, wat hom later vereer het as Pietie van die Jaar.
Na matriek in 1946 het hy ‘n postmatriek aan Michaelhouse voltooi.
Dit is hier waar hy Afrikaanse grappe vir die Engelse geleer het en hy fisika en chemie onder die knie gekry het. Wanneer hulle die ligte in die koshuis afgesit het, het hulle gevra: “Carl, tell us jokes in Afrikaans”.
“Met sy keuse van studierigting in 1947 het ek geen twyfel dat sy ouma Helene Franz ‘n kardinale invloed op sy besluit gehad het nie,” vertel Jordaan.
Helene Franz het in 1908 die hospitaal op Bochum gevestig en in 1914 die melaatse inrigting.
Jordaan haal haar pa aan: “For almost 40 years, Helene Franz carried on her work amongst the people of the far north. A modest and sincere woman that believed that man’s aim was to find salvation and happiness. Although she did her work quietly, she received the St Johns order of the nurses of Malta in 1908 and in 1935 the Kings Jubilee medal for outstanding service.”
Vir Carl was dit belangrik en ‘n roeping om hierdie nalatenskap voort te sit en hy verwerf sy MBCHB-graad in 1952 aan die Universiteit van Pretoria (UP) waarna hy sy huisdokterjaar by King Edward 8th voltooi. Dit is hier waar hy vir Edna May Emaneulson ontmoet en in 1954 trou.
Hy sluit aan by UP as senior dosent en word aangestel as volle professor en hoof van die departement in 1972.
Hy spits hom toe op navorsing oor bloedstolling by chirurgiese pasiënte. Sy studente het hom na aan die hart gelê, al het hulle na hom verwys as “the smiling assassin” tydens mondelinge eksamens.
Carl is plaaslik en internasionaal vereer vir sy navorsing, onder andere in 1986 deur die Oostenrykse Chirurgiese vereeniging.
Die Suid- Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het die Havengaprys aan hom toegeken in 2001 en hy verwerf ‘n eredoktorsgraad aan UP in 1997. In 2008, na die afsterwe van Edna, is hy getroud met Hannie Lubbe, wat hom ook intussen ontval het.
“Ons dogters is trots op sy akademiese prestasie maar is die herinnering aan sy pa wees, voorop. Die lewenslesse wat hy aan ons oorgedra het, het deel van ons DNS geword. As jy val, dan staan jy self op. Wees getrou aan wie jy is, en behandel alle mense gelyk. My ma het altyd gesê: “You girls are his everything,” sê Jordaan.
Op sy ander dogter, Ina Franz, of soos hy haar genoem het, May, was hy baie trots omdat sy as narkotiseur in sy voetspore gevolg het.
Eileen, of Dinkie het sy liefde vir geskiedenis gedeel en was ‘n versorger van formaat. Elsa, ook genoem Elsbé, het sy liefde vir kultuurgeskiedenis en bome gedeel.
“My pa was nie so ingestel op kleiner, jonger kinders nie, maar wanneer jy ouer was en ‘n wyntjie of ‘winky’ saam kon geniet, is verskeie onderwerpe bespreek: mediese wetenskap, natuurverskynsels, geskiedenis, nobelpryswenners en vele meer. Die lekkerste kuier was onder die huilboerbone of wildevy op Daveuham. En dan het hy ook die hart van ‘n student verstaan. Na ‘n aand uit sou hy vra: ‘Hoe was jou aand’. Op die antwoord: ‘Pa die polisie het die studente met rookbomme uitmekaar gejaag’, sou hy reageer: ‘Klink na ‘n suksesvolle partytjie, sussie’”.
“Met hierdie onderbou is ons dankbaar dat ons drie dogters elkeen met haar eie identiteit, haar eie onafhanklikheid en eie vriendekring die wedloop van die lewe kan voltooi. Dankie pa,” sluit Elsa af.
Hy word oorleef deur sy drie dogters, Eileen Ferreira, Ina Franz en Elsa Jordaan, vier kleinkinders en ses agterkleinkinders.