Breinfiks met lees, juf. Ans deel haar kennis
Onderwyser Ans Becker beklemtoon die belangrikheid van lees in die ontwikkeling van ‘n flinke brein, goeie woordeskat en om die verbeelding te bevorder.
POLOKWANE – In die storie van Winnie-die-Pooh wat deur A.A. Milne geskryf is, sê Winnie: “Ek is ‘n beertjie met ‘n klein verstandjie en lang woorde maak my moeg…”.
Vandag is daar soveel leerders, wat, net soos Winnie, moeg gemaak word deur lang woorde.
Polokwane Review het met Ans Becker, ‘n onderwyser by Akademie Reformia gesels oor die belangrikheid van lees.
“Die rede waarom die leerders moeg gemaak word met lang woorde, is omdat hulle nooit geleer het om baie te lees nie. Lees kweek ‘n flink en fikse brein.”
Sy sê lees hou talle voordele in en talle geleerdes stem saam dat lees die mens se magtigste vaardigheid is.
“‘n Leerder word geleer om letters te herken en woorde te bou en deur hierdie vaardigheid word sy breinpaadjies gevorm. Hoe meer woorde die kind ken, hoe flinker word sy brein, want lees bou breinkrag. Elke storie wat ‘n kind lees, slyp sy verbeelding. Baie leerders sit deesdae soos houtpoppe voor allerhande soorte skerms soos die TV, tablette en selfone, en raak sodoende breindood. Hulle kan naderhand niks meer doen waarvoor ‘n wakker brein nodig is nie.”
Ans sê verder dat Christien Neser, ‘n lees- en spraakterapeut van Johannesburg, reken dat lees jou regterbrein verbeter, daarom help dit die verbeelding om sy eie prentjies te maak van dit wat jy lees.
“So verbeel die kind hom dat hyself die held in die verhaal word en op dié manier word selfs ‘n houtpop genees van skermverslawing.”
Mense wat graag lees, weet ook meer, hulle algemene kennis word verbreed, en hulle woordeskat brei uit. ‘n Goeie woordeskat, op sy beurt, maak dit moontlik om ‘n hond uit ‘n bos te gesels en ‘n verhaal onderhoudend te kan vertel.
“Gewoonlik is kinders wie se leesvaardigheid goed is, ook dié wat op skool presteer, met ander woorde, goedkoop opvoeding.
En wat van dié wat nog te jonk is om self te lees? Pa en Ma, of ouboet en ousus kan inspring en vir hulle stories voorlees, of dalk sommer vertel.
“So kry ons dit dalk reg om hele gesinne met heerlike gladdebek raakpraters te kweek wat van stories lees hou. Boonop is die beste bonus dat elkeen in die gesin kan spog met ‘n lekker flink bobaasbrein.”




