Polokwane egpaar draf 250ste Parkrun kaf
George en Susan Petitt het hul 250ste Parkrun gevier, 'n mylpaal wat hulle bereik het ná sewe jaar van toewyding.
POLOKWANE – Die getal 250 is miskien nie noodwendig ‘n groot getal nie, maar vir George en Susan Petitt is dit ‘n besonderse mylpaal.
Dié egpaar, wat reeds 34 jaar getroud is, het op 4 Januarie hulle 250ste Parkrun voltooi, iets wat, indien jy elke week deelneem, vyf jaar sal neem om te voltooi.
Hulle het reeds in 2016 begin Parkrun.
“Ons kinders het ons genooi om saam met hulle deel te neem en ons het dit so baie geniet, dat ons nooit opgehou het nie. Ons kinders en George se susterskind neem ook steeds deel,” vertel Susan.
Tydens die eerste Parkrun was George se tyd 40:10 en Susan s’n, 35:18.
In 2019 het Susan haar persoonlike beste tyd voltooi naamlik 30:12 en ‘n paar jaar later het George sy persoonlike beste tyd behaal met 32:02.
George het sedertdien reeds 13 keer sy persoonlike beste tyd behaal en Susan 14 keer. “Ons het in 2017 ons 50ste Parkrun voltooi en in 2018 ons 100ste. In 2022 het ons ons 150ste Parkrun voltooi en in 2023 ons 200ste,” sê George.
Die egpaar is dit eens dat hulle gunsteling Parkrun beslis Uvongo in Natal is. “Dit was ook ons moeilikste Parkrun. Dit was see, seesand en ‘n smal roete wat ons moes voltooi,” sê Susan.
Soos met enige ander sport is daar doelwitte en vir Susan en George is dit nie anders nie. George se doelwitte was om al die mylpale te bereik en sy persoonlike beste tye te voltooi. Susan wou graag ‘n Parkrun binne 30 minute voltooi.
“Ek sal vanjaar graag my vrywilligerhemp wil kry en Susan wil steeds fiks bly, sonder om tyd te jaag,” sê George.
‘n Hoogtepunt was toe hulle in 2020 met Tzaneen se eerste Parkrun vir Bruce Fordyce, nege maal Comrades Marathon-wenner, kon ontmoet.
Die uitdagings van Parkrun? “Dit sluit soms baie klippe, sand, steiltes en nou paadjies in wat jy moet hardloop,” sê hulle.




