FOTO’S: Afrikaans in Polokwane lok duisende
Die eerste Afrikaans in Polokwane-fees was 'n definitiewe trekpleister vir plaaslike inwoners verlede naweek.

POLOKWANE – Nie eers ‘n donderstorm en reën kon aanhangers van Afrikaanse musiek verhoed om Saterdagaand op Oosskool se rugbyveld bymekaar te kom nie – dit was uiteindelik tyd vir die langverwagte ‘Afrikaans in Polokwane’ wat deur die Nederduitsch Hervormde Kerk Van Afrika Welgelegen aangebied is.
Met meer as 1 700 toeskouers het Ricus Nel en Appel ‘n groot gehoor gehad om te vermaak.
Hulle het van hulle gunstelinge soos ‘Nonna’ en ‘Boerepompie’ gesing, wat die litte losgemaak het vir ‘n paar danspassies.
Terwyl die jongklomp ‘n rugbybal op die veld skop of hulle gesigte laat verf het, het dié wat kos verkoop het, hard gewerk om aan elke aanhanger iets lekker te ete te gee.
“Hierdie was een van die lekkerste aande in ‘n lang tyd. Almal kuier saam al ken ons mekaar nie. Ek hoop daar is nog vele van hierdie soort geleenthede,” het Marietjie Dames, een van die besoekers, opgemerk.
