Limpopo se Katelyn dra Sportvrou van die Jaar kroon
Katelyn Swan is 'n veelsydige sportvrou wat uitblink in die meeste sportsoorte wat sy aanpak.
POLOKWANE – Aan die begin van die jaar is daar byna net soveel prysuitdelings en gelukwensings as aan die einde van die jaar.
Een van hierdie prestasiegeleenthede is die 2024 Limpopo Sporttoekennings, wat op 25 Januarie by Meropa Casino and Entertainment World plaasgevind het.

Onder die vele genooide gaste was Katelyn Swan, ‘n leerder van Hoërskool Pietersburg en ‘n toegewyde lid van die Ion Baciu Stoeiklub, waar sy reeds sedert gr. 7 haar merk maak in stoei.
Tydens die prysuitdeling is Katelyn tot haar groot verbasing as Sportvrou van die Jaar aangewys.
“Ek het glad nie geweet ek gaan die toekenning wen nie. Dit was ‘n groot verrassing. Soos hulle in Engels sou sê, ek was ‘speechless’. Maar ek was ongelooflik bly,” vertel sy.
Katelyn was een van drie finaliste in hierdie gesogte kategorie. Sy is ‘n veelsydige sportvrou wat uitblink in die meeste sportsoorte wat sy aanpak.
Stoei het egter nog altyd haar hart gehad, en sy het vinnig bewys dat sy ‘n mededinger van formaat is.
Om vir hierdie prestigeryke toekenning in aanmerking te kom, moes sy uitmuntende prestasies in haar sport behaal.
“My deelname en prestasie tydens die Afrika Kontinentale Kampioenskappe, asook my provinsiale deelname in netbal, het waarskynlik ‘n rol gespeel.
“Nou fokus ek op die proewe vir die volgende Afrika Kontinentale Stoei Kampioenskappe,” sê sy.
As deel van haar toekenning het Katelyn ‘n trofee en ‘n kontantprys ontvang – ‘n groot motivering vir haar sportloopbaan vorentoe.
Hoërskool Pietersburg is trots op Katelyn wat die skool se naam hoog hou en ‘n inspirasie vir ander is.




