Oud Pietie sluit by Pietersburg Dierekliniek aan
Daniel Swarts sê dit is vir hom lekker om by die kliniek te werk want daar is baie mentors en hy leer baie by hulle.
POLOKWANE – Daniel Swarts is glad nie ‘n onbekende naam in plaaslike kringe nie – hy was immers die skrander hoofseun aan beide Laerskool Pietersburg-Oos én Hoërskool Pietersburg, en sluit sy matriekjaar af onder die top drie provinsiale presteerders.
Daniel, wat vandeesweek as veearts by Pietersburg Dierekliniek se span aangesluit het, vertel dat hy as jong seun reeds besluit het om eendag ‘n buitestort by sy huis te hê, sodat hy homself eers kan was voordat hy in die huis ingaan aangesien hy vuil gewerk is na ‘n dag in die buitelug.
Daar is vandag nou wel nie ‘n buitestort nie, maar wel ‘n swembad, skerts hy, en sy droom om in die buitelug te werk het behoorlik vlerke gekry.
Hy vertel dat hy reeds lank vertroud is met dié dierekliniek.
“Ek het destyds oor vakansies hier kom werk, en die feit dat ek van diversiteit hou en ewe veel buite as binne kan werk, het die werk nog meer aanloklik gemaak. Dit is vir my lekker om by die kliniek te werk, hier is baie mentors en ek leer baie by hulle. Hulle is gewillig om hulle kennis met my te deel en ek ervaar dinge wat ek nog nie ervaar het nie.”
Hy onthou die eerste keer toe hy ‘n dier van kant moes maak, en sê dit bly altyd ‘n moeilike situasie.
“Wanneer die dier nog gesond en vol lewe is, maar daar ‘n goeie rede is waarom hy van kant gemaak moet word, is dit hartseer. Dit is net so hartseer as die dier nie meer gehelp kan word nie. Ons moet empatie en simpatie hê. Wanneer daar dan ‘n eienaar met ‘n nuwe hondjie inkom, is ons weer opgewonde saam met hulle. Die werk is maar ‘n tuimeltrein van emosies.”
Daniel sê ‘n uitdagende geval was waar ‘n hondjie onder ‘n motor beland het, en die dier se femurkop afgesny moes word sodat daar ‘n valse gewrig gevorm kan word.
“Ons het die heup teruggedruk, maar die hond het hom weer uitgedruk en dus moes ons ‘n ander plan maak.”
Hy reflekteer ook oor sy studiejare by Onderstepoort.
“Alhoewel die kursus uitdagend kan wees, is dit nooit onmoontlik nie. Dit is lang ure se swot en as jy heeldag prakties gedoen het en daarna nog moet swot, is dit uitdagend. ‘n Mens moet ‘n passie hiervoor hê, anders is die kursus nie maklik nie, ongeag wat jou punte is. Balans is ook belangrik. Jy moet tyd maak vir sosiaal verkeer, asook sport.”
Daniel en sy vrou, Lize-Mari – ook ‘n veearts – geniet dit om te kampeer en tyd in die buitelewe deur te bring.
Hulle het ‘n kat, Grietjie, en daar sal binnekort ‘n baba Golden Retriever, Joy, ook by hulle gesin aansluit.




