Tannie Anna Smit (101) se lewe só onthou
Tannie Anna Smit se talent vir naaldwerk het haar vinnig 'n bekende naam gemaak in trourokke- en kleremaak.

POLOKWANE – Skaars ‘n maand voor haar 102de verjaardag is Tannie Anna Smit, geliefd bekend as ‘Kween’, op 3 Februarie vreedsaam oorlede. Sy was ‘n geliefde en gerespekteerde vrou, bekend vir haar skerp sin vir humor en sterk geheue.
Gebore op ‘n plaas in Heidelberg, was sy die tweede oudste van ses kinders. Haar gesin het later na Benoni verhuis, waar sy skoolgegaan het tot standerd 6 (gr. 8) en daarna ‘n tegniese kollege bygewoon het.
Haar talent vir naaldwerk het haar vinnig ‘n bekende naam gemaak in trourokke- en kleremaak. Op 17 het sy met James Geere getrou en later ‘n toegewyde tuisblyma geword.
Haar dogter, Annatjie Joubert, vertel dat haar ma in 1969 weer begin werk het en tot op 75-jarige ouderdom aktief gebly het. “Teen haar 92ste verjaarsdag het sy haar motorsleutels finaal neergesit, ‘n groot aanpassing vir iemand wat so onafhanklik was.”
Na die afsterwe van haar eerste man het sy vir Jannie Smit ontmoet en hulle het getrou.
Ná sy heengaan het sy tot op 96-jarige ouderdom alleen gewoon voordat sy by Annatjie en haar lewensmaat, Danie van Niekerk, ingetrek het.
“Ons gaan haar skerp sin vir humor mis,” sê Annatjie. “Net die Saterdag voor haar dood het sy nog vir my gesê wat sewe-maal-sewe is.”
Tannie Anna word oorleef deur haar kinders Annatjie Joubert, Connie Ollewagen en Johan Geere, sewe kleinkinders, 14 agterkleinkinders en agt agter-agterkleinkinders.
Haar lewe sal in Maart tydens ‘n spesiale geleentheid gevier word.




