Local News

André Fourie (51): Hy het geleef vir sy kinders

André Fourie (51) is op 10 Februarie oorlede, nadat hy in April verlede jaar met kanker gediagnoseer is.

POLOKWANE – Op Donderdag het geliefdes van André Fourie (51) vir die laaste keer afskeid van hom by die Logos Gemeenskapskerk.

Hy is op 10 Februarie oorlede, nadat hy in April verlede jaar met kanker gediagnoseer is.

André, ‘n passievolle gholfspeler, was op die gholfbaan by putjie 14 destyds toe sy spanmaat, Andrew Galloway, besef iets is nie reg nie.

Na verskeie skanderings het ‘n dokter ‘n aggressiewe graad vier gewas op André se brein bevestig. Die gewas is uiteindelik tydens ‘n drie-en-‘n-half uur lange operasie verwyder.

Met die bevestiging van die kankerdiagnose het André met behandeling begin. Gedurende vier maande het hy elke maand vir ‘n week lank chemoterapie ontvang en het ook bestraling ondergaan. Aanvanklik moes hy ook dialise ondergaan, aangesien die chemoterapie sy nierfunksie aangetas het.

Volgens sy broer, Drickus, was André in remissie toe hulle in Desember stamselle geoes het. “Die dokters het sy stamselle geoes, en in Januarie het hy intensiewe chemoterapie begin om alle selle in sy liggaam te vernietig. Sy liggaam moes homself weer opbou.”

André se stamselle is weer in Januarie teruggeplaas, maar die chemoterapie het infeksie en inflammasie in sy ingewande veroorsaak. Hy het septiese skok en orgaanversaking opgedoen en het verlede Sondag in ‘n koma verval. Hy is die Maandag om 20:00 oorlede, omring deur sy familie en geliefdes.

Volgens Drickus het André geleef vir sy kinders. “Hy het baie tyd op die gholfbaan deurgebring, maar sy kinders was altyd sy eerste prioriteit. Hy het dit geniet om tyd saam met sy familie deur te bring.”

André word onthou as ‘n positiewe mens wat na elke terugslag weer opgestaan het. Drickus sê alhoewel André baie uitdagings in die lewe gehad het, het hy altyd gelukkig gebly.

“As jong seuns het ons, soos enige ander broers, baklei, maar as volwassenes was ons goeie vriende. Hy het bykans daagliks by my kom koffie drink.”

André was in ‘n verhouding met Ronel Jardin, wat hom onthou as ‘n opregte kind van die Here.

“André was my toekoms, ons sou verloof geraak het sodra hy die stryd oorwin het. Ek was nie sy eerste liefde nie, maar ek was definitief sy laaste. Ek was die gelukkigste vrou die afgelope ses maande saam met hom. Hy was die mooiste kind van die Here, en hy was alles wat ek wou hê.”

Sy dogters, Juané en Leandré, is hard getref deur André se heengaan. “My pa was ‘n baie goeie pa. Hy was altyd daar om ons te ondersteun, maak nie saak wat nie. Hy het die positiewe kant van elke situasie gesien en het ons laat beter voel wanneer ons ‘n slegte dag gehad het,” vertel Juané.

Leandré sê hulle gaan sy betrokkenheid by hul lewens mis. “Hy het altyd saam met ons selfoonspeletjies gespeel en dit geniet om saam met ons te dans en sing in die kombuis. Ons gaan veral sy ‘dad-jokes’ mis, wat hy net vertel het om ons reaksies te kry of om ons dag beter te maak,” sê Leandré.

Hulle is dit eens dat hulle van André die belangrikheid van hardwerkendheid geleer het.

“My pa het alles tot sy beste vermoë gedoen. Geen taak was te groot vir hom nie. Hy was gemotiveerd en het goed gevaar in alles wat hy aangepak het. Hy het vir ons geduld geleer en was nooit kwaad as ons iets nie verstaan nie,” onthou Juané.

Leandré sê die grootste les wat hulle by hom geleer het, is hoe om ‘n negatiewe situasie positief te benader.

“Hy het ons geleer dat daar altyd ‘n silwer randjie agter elke donker wolk is, en dat alles reg sal uitwerk, al voel dit nie so nie.”

Drickus sê die familie hou vas aan die Woord van die Here.

“Soos in Psalm 116 geskryf word, is dit kosbaar vir die Here wanneer een van sy gunsgenote sterf. Ons glo dat André ‘n gunsteling van God was en dat hy nou in heerlikheid voor die Vader is. André het baie uitdagings gehad, maar sy stryd op aarde was nie verniet nie. Ons bid dat sy deursettingsvermoë, sy voorbeeld, sy liefde vir sy kinders en ander mense, sowel as sy liefde vir die Here, elkeen van ons sal inspireer.”

André word oorleef deur sy ma Ria, dogters Juané en Leandré, broer Drickus en sy familie, sowel as sy vriendin, Ronel.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button