Bejaardes in Mokopane geniet spesiale Omgeedag
Om die dag opwindend te maak, is daar heerlike peuselhappies en tee bedien, terwyl verskeie speletjies gespeel is.
MOKOPANE – Sowat 80 bejaardes van die Piet Potgieter Monument Ouetehuis sal die Omgee vir mekaar-dag op 14 Februarie nog lank onthou.
Dit was ‘n dag vol pret, speletjies en lag.
Volgens Mariana van Tonder, bestuurder van die ouetehuis, is die geleentheid gereël omdat baie van die inwoners nie meer eggenote het nie.

“Ons het besluit om eerder ‘n ‘Omgee vir mekaar’-dag te hou as ‘n tradisionele Valentynsdag. Dit was ‘n spesiale manier vir die inwoners om saam te kuier en mekaar te waardeer.”
Om die dag opwindend te maak, is daar heerlike peuselhappies en tee bedien, terwyl verskeie speletjies gespeel is.

Een van die hoogtepunte was Valentyns-bingo, waar elke inwoner ‘n plakkaat met prentjies van liefde ontvang het. Groot was die opgewondenheid toe die eerste “Bingo!” van alle kante af weergalm het.

Daarna is ‘n aangepaste weergawe van Musical Chairs gespeel.
“Omdat sommige inwoners kieries gebruik of in rolstoele sit, het ons besluit om eerder ‘n gebreide poppie om die tafel te stuur. Wanneer die musiek stop en die poppie by iemand eindig, is daardie persoon uit,” verduidelik Van Tonder. “En daardie poppie het behoorlik tussen die hande gevlieg!”

Tussendeur is daar heerlik saam gekuier, en die dag is afgesluit met geselskap en baie lag.




