Mokopane se Mandy staan sterk ondanks siekte
Die nuus van Mandy Landsberg se borskanker diagnoses het haar diep geraak en 'n reeks uitdagings het gevolg.
MOKOPANE – Plaaslike inwoner Mandy Landsberg se lewe het op 8 Oktober verlede jaar ‘n onverwagse wending geneem toe sy met borskanker gediagnoseer is.
Die nuus het haar diep geraak en ‘n reeks uitdagings het gevolg.
“Ek was platgeslaan en het dit aanvanklik moeilik hanteer,” vertel sy.
“Alhoewel ek van baie ander gehoor het wat met borskanker gediagnoseer is, het ek nooit gedink dit sou met my gebeur nie.”
Ná die diagnose het sy ook ontdek dat daar ‘n familiegeskiedenis van kanker is waarvan sy nie bewus was nie.
Alhoewel sy in November geopereer is, het die kanker wel na haar limfkliere ook versprei, wat ook verwyder moes word.
Haar grootste ondersteuner, Yolande Koekemoer, het aan Bosveld vertel dat daar ‘n BackaBuddy-veldtog vir Mandy van stapel gestuur is, om die finansiële druk van die familie te probeer verlig.
Verlede Saterdag het 41 gholfspelers deelgeneem aan ‘n fondsinsamelingsgeleentheid, wat sowat R10 000 ingesamel het.
Yolande het bygevoeg dat Mandy tans chemoterapie ontvang. Sy het reeds twee sessies voltooi.
“Mandy ontvang die sogenaamde ‘rooi duiwel’-chemo, wat intraveneus toegedien word en verskeie newe-effekte het. Sy is baie moeg, sukkel met hoofpyn en naarheid, en ongeveer 13 dae ná die eerste sessie het haar hare begin uitval. Sy het egter positief gebly en besluit om haar hare self af te sny, met die woorde: ‘Kanker gaan nie my hare vat nie; ek vat dit self.’”
Beide Yolande en Mandy is diep dankbaar vir die gemeenskap se ondersteuning.
“Dankie is ‘n klein woordjie, maar dit kom opreg uit ons harte vir almal wat bygedra het – nie net finansieel nie, maar ook deur ondersteuning en liefde. Ons is oorweldig deur die omgee en is ongelooflik dankbaar, ook aan ons Hemelse Vader, want ons is niks sonder Hom nie.”




