Ma-en-dogteraand bring kreatiewe inspirasie
Hoërskool Piet Potgieter se ma-en-dogteraand was die perfekte geleentheid vir die hokkiemeisies en hul ma’s om mekaar, asook die afrigters, beter te leer ken.
MOKOPANE – Elke meisie het iemand nodig wat haar bystaan in tye van moeilikheid, hartseer, opgewondenheid – of selfs net as ‘n skouer om op te huil. Dit kan ‘n ma, tannie, niggie, vriendin of selfs ‘n afrigter wees.
Hoërskool Piet Potgieter se ma-en-dogteraand was die perfekte geleentheid vir die hokkiemeisies en hul ma’s om mekaar, asook die afrigters, beter te leer ken.
Die spoggeleentheid het verlede Saterdag in die Pierneefsaal plaasgevind en was ‘n viering van samehorigheid, kreatiwiteit en inspirasie.

Elke span het ‘n woord en ‘n soort blom of plant ontvang as tema vir hul tafelversierings.
Die ma’s het hul kreatiwiteit ten toon gestel met pragtige dekor wat hul dogters se spanwaardes weerspieël: die o/14-span het uithouvermoë met ‘n spekboom voorgestel, die o/15-span het dissipline met ‘n vygieplant uitgebeeld, die o/16-span het lojaliteit met ‘n laventelblom gesimboliseer, die tweede span het hardwerkendheid met ‘n woestynroos uitgebeeld en die eerste span het hul trots met rose gevier.

Die aand se gasprekers, Imogen Marshall en haar ma, Heather van Wyk, het waardevolle boodskappe gedeel. Imogen, ‘n oud-Pottie en voormalige hokkiespeler, het die meisies geïnspireer met haar ervaringe, terwyl haar ma wenke en stories uit haar dae as ‘n hokkie-ma met die ander ma’s gedeel het.
Tydens die aand is ‘n nuwe tradisie bekendgestel: die “omgeebord”.
Die eerste span het die bord ontvang en sal dit, met ‘n geskenkie of bemoedigende boodskap, aan ‘n ander span oorhandig wat motivering en ondersteuning nodig het.
Die skool bedank alle ma’s vir hul bywoning en sien uit daarna om hierdie pad saam met hulle te stap.




