Local News

Leeukuil Gemeenskap bied hulp en hoop

Die Leeukuil Shelter beplan om sy naam te verander na Leeukuil Gemeenskap, wat beter weerspieël wat hulle doen.

POLOKWANE – Die Leeukuil Shelter (skuiling) is al jare deel van die Polokwanegemeenskap en voorsien nie net verblyf nie, maar ook kos aan bykans 700 mense per week.

Nou is daar ‘n nuwe visie – die skuiling beplan om sy naam te verander na Leeukuil Gemeenskap, wat beter weerspieël wat hulle doen: ‘n ondersteunende gemeenskap bou.

Michael Joubert van Emmanuel Construction en Carpentry het homself ingeskakel by Leeukuil en speel ‘n sleutelrol in die rehabilitasie van inwoners.

Sy fokus is om mense wat dwelm-, alkohol- of ander verslawings oorwin het, te help met ‘n volhoubare terugkeer na die arbeidsmark.

“Baie mense val terug in hul ou gewoontes sodra hulle sukkel om ‘n nuwe lewe te begin. Ons leer hulle basiese vaardighede en help hulle om selfonderhoudend te word,” verduidelik hy.

Michael help mans by die skuiling om houtwerk te doen en items te verkoop, terwyl Debbie Rijns ‘n kunsateljee begin vir vroue om verskeie kunsvaardighede aan te leer.

“Nie almal kan dieselfde werk doen nie, maar almal het ‘n talent. Ons wil mense hul waardigheid teruggee en hulle hoop vir die toekoms gee,” sê Michael.

Benewens houtwerk en kunsklasse, beplan die skuiling ook om groente te verbou en ‘n wurmplaas te vestig alles met die doel om inwoners selfversorgend te maak. Maar om hierdie projekte te laat slaag, is skenkings broodnodig.

Hulle benodig:

• Materiaal vir die herstel van twee vertrekke, insluitend ‘n nuwe dak.

• Sement vir ‘n stoor en twee glas-skuifdeure.

• Tafels, stoele en hout vir die werkswinkels.

• ‘n Waterpomp en bykomende huisies vir inwoners.

Rotary Pietersburg 100 het reeds ‘n waardevolle bydrae gelewer, en Leeukuil Gemeenskap is dankbaar vir elke bietjie hulp.

“Ons wil ‘n verskil maak en vir mense ‘n tweede kans gee. Enige hulp, of dit finansieel, in die vorm van materiaal, of bloot ‘n helpende hand is, bring ons nader aan daardie doel,” sluit Drienie van Wyk af.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button