Die Begrafnisrede: Wynand oefen gehoor se maagspiere
Dié merkwaardige man het gaste van die N.G. Hulp en Hoop Gemeenskapskerk verlede week vermaak met sy eenmanverhoogstuk, 'Die Begrafnisrede'.

MOKOPANE – Wynand van Vollenstee is ‘n Suid-Afrikaanse komediant en akteur wat bekend is vir sy komiese rolle in verskeie kykNET-programme.
Hy is beter bekend as Gielie in Ouboet en Wors of selfs as Karate Kallie.
Dié merkwaardige man met sy vele talente het gaste van die N.G. Hulp en Hoop Gemeenskapskerk verlede week tydens die leraarsdinee vermaak met sy eenmanverhoogstuk, ‘Die Begrafnisrede’.

In hierdie skreeusnaakse verhoogstuk, met ‘n hartseer kinkel, het Wynand ‘n storie vertel van hoe dit agter die skerms van ‘n begrafnisondernemer gaan.
Om die tydelike met die ewige te verwissel kom met sy eie uitdagings.
“Basies is dit dieselfde proses as om ‘n bruilof te reël, blomme, spyseniering, vervoer, uitrustings, die enigste groot verskil is jy kan nie kies om dit nié by te woon nie. Gelukkig kom Gabriel van Gabriel en Seun Sakpas Begrafnisdienste tot jou redding wanneer jy hulle die nodigste het.”
Hul welbekende begrafnisonderneming se slagspreuk sê dit alles: “Ons is hier vir jou wanneer jy nie meer is nie.”

Die unieke begrafnisonderneming bied verskeie dienste onder een dak – van traumaberading tot hul gewilde vyfsterbegrafnisbroodjiebuffet. Die heel duurste pakket sluit tot 10 professionele rouklaers in om die gepaste, intense atmosfeer te skep.
Die gehoor het die skreeusnaakse karakters wat Wynand uitgebeeld het, en almal al by dié byeenkomste gewaar en ervaar het, vreeslik geniet. Na afloop van die vertoning het die gaste heerlik verder gekuier en aan die heerlike kos gesmul.

Ds. Jacques Erasmus bedank elke gasvrou wat gehelp het met die dek van die tafels en elke persoon wat gehelp het met borgskappe.
“’n Groot dankie aan die Limpopo Chef Academy vir die maak van die kos en aan elke inwoner wat die leraarsdinee ondersteun het. Dankie ook aan Wynand van Vollenstee vir die wonderlike vertoning en lekker lag.”
