Helpende Hand fokus op maatskaplike werkers
Lize van Zyl, 'n maatskaplike werker en maatskaplike bestuurder van Solidariteit Helpende Hand, beklemtoon die belangrikheid van maatskaplike werkers vir die vestiging van geborgenheid in gemeenskappe.

POLOKWANE – Maatskaplikewerkersmaand word in Maart gevier, ‘n tyd waarin die aandag op die kritieke rol van maatskaplike werkers in die samelewing, gefokus word.
‘n Onlangse peiling van Solidariteit Helpende Hand het bevind dat ongeveer 70% van mense ekonomiese onsekerhede, werkloosheid, geestesgesondheid en stres hulle gevoel van veiligheid beiënvloed. Daarby word saamgevoeg fragmentasie, en isolasie in hulle gemeenskappe.
Lesers voel toenemend onseker oor hulle plek in die gemeenskap en dat faktore soos gesinsverbrokkeling, werkloosheid en ‘n gebrek aan ondersteuning hulle gevoel van geborgenheid verswak.
Lize van Zyl, ‘n maatskaplike werker en maatskaplike bestuurder van Solidariteit Helpende Hand, beklemtoon die belangrikheid van maatskaplike werkers vir die vestiging van geborgenheid in gemeenskappe.
“Ons wil mense se aandag veral vestig op die kritieke rol wat maatskaplike werkers speel om geborgenheid te versterk deur emosionele ondersteuning te bied en sosiale aanvaarding te bevorder. Ons wil gemeenskappe bewus maak van, en inspireer tot aktiewe betrokkenheid by waardegedrewe inisiatiewe wat geborgenheid en samehorigheid ondersteun.”
Sy sê Solidariteit Helpende Hand wil ‘n beweging van hoop, ondersteuning en verbondenheid aanwakker, ‘n beweging wat sal help om individue en gemeenskappe sterker, veerkragtiger en meer verbonde te maak.
“Ter erkenning van maatskaplike werkers se bydrae in die samelewing sal Hoopdraertoekennings in samewerking met Solidariteit se Beroepsnetwerk binnekort aan ligdraers in die beroep en gemeenskap oorhandig word. Met hierdie inisiatief wil Solidariteit Helpende Hand ‘n daadwerklike verskil maak en ‘n beweging van hoop, ondersteuning en verbondenheid dryf, ‘n tree na ‘n sterker, meer geborge samelewing,” het Van Zyl gesê.
