‘Ovals’-ou Piet Venter onthou
Piet het op 20 Maart, na 'n lang siekbed, gesterf en sal onthou word vir sy bydrae tot die motorwedrengemeenskap.
POLOKWANE – Die naam Piet Venter (69) is sinoniem met vinnige motors wat vir ure om die Polokwane Oval-baan kan ry.
In sy vrye tyd was Piet gereeld vasgenael voor die televisie waar hy na motorwedrenne gekyk het.
Piet het op 20 Maart, na ‘n lang siekbed, gesterf en sal onthou word vir sy bydrae tot die motorwedrengemeenskap.
In 1994 begin hy met wedrenne en in 2005 maak hy ‘n werkswinkel oop.
Dit is hier waar Racing41 begin het en hy karre vir Polokwane Ovals gebou het.
Sy vrou, René, sê hulle het in 2014 die Polokwane Ovals baanbestuur oorgeneem en al hulle kinders was betrokke – van kaartjies by die hek verkoop tot in die kroeg en kombuis. René het die administrasie hanteer.
“Hy was seker een van die strengste pa’s wat daar kon wees, maar hy het ons kinders baie liefgehad. Ons twee seuns het saam met hom resies begin ry.”
Sy sê verder ongeag sy streng aard, het almal by die baan ongelooflike respek vir hom gehad.
“Ek het altyd gesê hy moet nooit ophou resies jaag nie, hy gaan oud word. Dit was vir hom so ‘n groot passie, sy lewe het rondom die karre gedraai.”
Behalwe vir die motorwedrenne, was sy gesin vir hom baie belangrik en was hy baie beskermend teenoor hulle.
René sê hulle gaan hom mis, veral wanneer hulle vir hulle kleinseuns se wedrenne baan toe moet gaan.
“Ons sal hom altyd mis.”
Piet word oorleef deur sy vrou, René, seuns Pieter en Sakkie, ‘n dogter Celia asook die kinders se gades en ses kleinkinders.
Sy begrafnisdiens vind plaas op 28 Maart om 11:00 vanuit die Lede in Christus Kerk in Polokwane.




