Local News

Wat is HVM? En hoe om dit te hanteer

Om die verspreiding van die virus in geaffekteerde klaskamers en kleuterskole te voorkom, is die beste resep handewas met seep en lopende water.

MOKOPANE – Hand-Voet-en-Mondsiekte (HVM) lê dr. Elri du Preez na aan die hart en daarom het sy die geleentheid aangegryp om belangrike inligting met ouers te deel.

“Alhoewel HVM in die meeste gevalle asimptomaties voorkom en nie regtig iets is om oor huis toe te skryf nie, is my oudste kind vandag op hartmedikasie vanweë die Cox-Sackie virus. Dit is natuurlik die uitsondering op die reël vir hierdie ongemaklike, dog gewoonlik onskadelike, virussiekte,” vertel sy.

Sy verduidelik dat die oorsaak van infeksie of besmetting met die Cox-Sackie virus afkomstig is.

“Die Cox-Sackie virus is ’n RNA-virus van die familie Picornaviridae en die genus Enterovirus. Dit is vernoem na die dorp in New York waar dit in 1948 vir die eerste keer geïsoleer is. Ander bekende enterovirusse sluit in die polio- en echovirus. Dit is ’n virale infeksie wat bekend staan as HVM-siekte.”

Sy voeg by dat dit ’n algemene siekte is wat gewoonlik kinders onder die ouderdom van vyf jaar raak.

“Volwassenes kan dit ook kry, maar wys selde simptome, behalwe wanneer hulle immuunstelsel swakker is.”

Sy verduidelik dat die infeksie of simptome gewoonlik in die herfsmaande voorkom maar dit kan ook in die somer uitbreek in dagsorgsentrums, kleuterskole en skole. Die infeksie is tussen drie en ses dae na blootstelling aan die virus sigbaar.

“HVM versprei gewoonlik deur kontak met die respiratoriese afskeidings of ontlasting van ’n geïnfekteerde persoon. Dit kan ook versprei word deur kontak met besmette oppervlaktes of deur druppeltjies in die lug wanneer ’n geïnfekteerde persoon hoes of nies. Die vog in die blasies dra ook die virus. Dink byvoorbeeld aan skryfbehoeftes wat gedeel word in kleuterskole, handvatsels en speelgoed. Koors, ‘n seer keel, moegheid en lusteloosheid, pynlike blase in die mond, agter in die keel, aan die kant van die tong, swak eetlus, ‘n uitslag op die handpalms en voetsole, asook soms op die boude en die lyf is alles simptome waarna opgelet kan word. Die uitslag kan pynlike knoppe of blase vorm wat oopbars en ook verder infeksie versprei,” sê sy.

“Dit is belangrik om te weet dat HVM twee keer meer onder seuns as meisies voorkom.”

Die diagnose van die virus kan dikwels gebaseer word op die kliniese simptome en ’n fisiese ondersoek.

Laboratoriumtoetse kan ook gebruik word om die teenwoordigheid van die virus te bevestig.

Sy beveel aan dat siek kinders vir minstens sewe dae geïsoleer moet word, of totdat die blasies opgedroog het.

“Daar bestaan geen inenting teen die virus nie en kinders kan dit meer as eenkeer onder lede kry.”

Sy voeg by dat in die meeste gevalle, die virus slegs matige simptome veroorsaak, en dat kinders volledig herstel sonder enige langtermynkomplikasies.

“In seldsame gevalle kan dit egter ernstige komplikasies veroorsaak, soos enkefalitis (breinontsteking) of meningitis. Die virus kan ook die hartspier en hartvlies aantas wat tot miokarditis en perikarditis lei. Moedig die siek kind aan om baie water te drink om gehidreer te bly. Verskaf pynmedikasie, soos parasetamol, om die koors en ongemak te verlig en moedig rus aan.”

Sy beveel ook middels soos Andolex, Teejel en Orochlor aan wat tydelike verligting vir mondsere bring en om aan die pasiënt koue, sagte kos soos jogurt, ysies, roomys, yskas-purity sakkies en koue koeldrank te gee.

“Vermy suur koeldrank soos lemoensap want dit sal die mond brand. Indien die blasie bars, sit ‘n bietjie antibakteriële salf op om infeksie te voorkom.”

Om die verspreiding van die virus in geaffekteerde klaskamers en kleuterskole te voorkom, is die beste resep handewas met seep en lopende water.

“Vir oppervlaktes moet ‘n alkoholbasisskoonmaakmiddel wat minstens 60% etanol bevat, vir minstens 60 sekondes kontak maak met die oppervlak en standaard natlappies gaan nie die virus doodmaak nie. Waterlose saniteerder moet as die laaste uitweg gebruik word, nie as die eerste linie vir vuil hande en gesigte nie,” is haar raad.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Raeesa Sempe

Raeesa Sempe is a Caxton Award-winning Digital Editor with nine years’ experience in the industry. She holds a Bachelor’s Degree in Media Studies from the University of the Witwatersrand and started her journey as a community journalist for the Polokwane Review in 2015. She then became the online journalist for the Review in 2016 where she excelled in solidifying the Review’s digital footprint through Facebook lives, content creation and marketing campaigns. Raeesa then moved on to become the News Editor of the Bonus Review in 2019 and scooped up the Editorial Employee of the Year award in the same year. She is the current Digital Editor of the Polokwane Review-Observer, a position she takes pride in. Raeesa is married with one child and enjoys spending time with friends, listening to music and baking – when she has the time. “I still believe that if your aim is to change the world, journalism is a more immediate short-term weapon." – Tom Stoppard

Related Articles

Back to top button