Local News

‘n Tweede kans vir Michael Joubert

Deur die bediening 'Seeds of Life' en die konstruksiemaatskappy Immanuel Construction het Michael Joubert ander mense gehelp om 'n nuwe begin te skep.

POLOKWANE – Michael Joubert (44) het in ‘n gewone, liefdevolle huis grootgeword, met ‘n blink toekoms wat voor hom gelê het.

Ongelukkig het hy, soos vele ander jongmense, die verkeerde pad gekies en homself met dwelms en verkeerde vriende deurmekaar gekry. Dit het gelei tot ‘n lewe op straat wat nie hy of sy ouers ooit sou kon voorsien nie.

Vandag, na 26 jaar as ‘n verslaafde, is hy dwelmsvry.

“Ek moes eers op ‘n nag om 03:00, desperaat op my knieë op Lookout Beach in Plettenbergbaai neerval, voordat ek my pad na vryheid kon begin,” vertel hy.

Die area op die strand waar Michael Joubert vir ‘n tyd gebly het.

Hierdie pad na herstel het Michael bemagtig om hoop en tweede kanse aan hulpbehoewendes te bied.

Deur die bediening ‘Seeds of Life’ en die konstruksiemaatskappy Immanuel Construction het hy ander mense gehelp om ‘n nuwe begin te skep.

“Ek het ‘n tweede kans gekry, en ek kan vandag getuig dat daar altyd hoop is. My dwelmmisbruik het kort na skool begin, toe ek en my vriende begin eksperimenteer het.”

Michael se verhouding met sy familie het skipbreuk gely, vertel hy. “Ek was kwaad vir hulle omdat hulle my nie met geld wou help nie. Ek het daardie tipiese ‘die-wêreld-skuld-my-iets’-houding gehad.

Uiteindelik het Michael in Plettenbergbaai op straat beland, waar hy vir die eerste keer haweloos was en op Lookout Beach geslaap het. “Ek het uit die see geleef, mossels geoes en krappe en seekatte gevang om te verkoop. Ek het gewerk net totdat ek genoeg geld gehad het vir my volgende ‘fix’. Daar was mense wat gesorg het dat ek elke dag kos gehad het.”

As gevolg van die dwelms het Michael psigose ontwikkel, en hy was oortuig dat mense hom wou doodmaak. Dit was die stemme wat hom uiteindelik op sy knieë gedwing het, waar hy alles in die Here se hande gelos het en belowe het om sy lewe aan Hom te wy.

“My ouers het nie geweet waar ek was nie, maar met God se genade het hulle my in die hande gekry. Met hulle hulp is ek by die Break Free Christian Life Skill Centre and Youth Centre opgeneem. My sielkundige was die Here. Terwyl ek fisieke werk gedoen het, het ek met Hom gepraat.”

Na ses maande is hy ontslaan, maar deur ‘n misverstand het hy weer op die straat beland. “Ek het ‘n man vertrou om my te help, maar hy het my besteel. Ek het besluit om te loop en het uiteindelik in Cullinan beland. Verskeie mense het oor my pad gekom, waarvan een ‘n vrou was wat ek glo ‘n engel was. Sy was skielik langs my en het vir my gesê ek moet in die straat afstap tot by ‘n ander vrou wat my sal help. Toe ek weer kyk, was sy weg. Ek was nie meer van dwelms afhanklik nie.”

Met hoop in sy hart het Michael die vrou gaan soek. Sy het vir hom werk gegee, en later ook blyplek. Met sy passie om vir ander hoop te gee, het hy gehelp om 12 mense van die straat af te kry.

“Mense kort net hoop, en dit is wat ons by Seeds of Life kan bied. Ek besef dat die Here vir my ‘n gawe gegee het – om hoop aan ander mense te gee. Met Seeds of Life en Immanuel Construction wil ons vir mense ‘n tweede kans bied. Ons wil hulle bemagtig, vaardigheidsopleiding gee en hulle toerus met die hulpbronne en geestelike ondersteuning wat hulle nodig het om hul lewens te herbou.”

Michael se verhouding met sy familie lyk vandag heeltemal anders, en hy kuier gereeld saam met hulle, sluit hy af.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button