Local News

Geliefde Oom Abie word só onthou

Oom Abie Cooper (76) word oorleef deur sy twee kinders en kleinkinders en word onthou as 'n hardwerkende man.

MOKOPANE – Die afsterwe van die legendariese oom Abie Cooper (76) op 3 Maart was ‘n groot slag vir inwoners en dié wat hom vir soveel jaar geken het.

Oom Abie is in Zambië gebore waar hy skoolgegaan het. Hy het hom later in Zimbabwe as boer gevestig, waar hy die plaas sou platry met sy Harley Davidson motorfiets.

Die bekende oom Abie Cooper het op 3 Maart heengegaan in die ouderdom van 76 jaar.

Dis ook daar waar sy vrou, Anna Maria Louisa sy voete onder hom uitgeslaan het en vele jare van getroude lewe het gevolg.

Uit die huwelik is twee kinders gebore, Eugene en Anita.

In die tagtigerjare het die gesin na Mokopane verhuis en ‘n nuwe lewe begin vestig.

Die bekende oom Abie Cooper het op 3 Maart heengegaan in die ouderdom van 76 jaar. Links: Kleinseun Matthew Cooper het die voorreg gehad om oupa se wedrenkar Saterdag te ry.

Eugene beskryf sy pa as ‘n hardwerkende man, veral toe hy jonger was. “Hy was baie streng, maar met die jare het hy sagter geword. Ek onthou in ons grootwordjare het my pa altyd baie vroeg opgestaan, vir hom ‘n bottel swart tee gemaak met koerantpapier om,” vertel Eugene en voeg by dat sy pa maar ‘n man van min woorde was, “maar met vriende het hy lekker gesels”.

Oom Abie se gunsteling tydverdryf was visvang en daardie bors kon lekker swel as hy ‘n grote uitgetrek het, meen Eugene. “Van kleins af kan ek onthou was my pa baie goed met visvang en as daar ‘n vis verby gekom het, kon jy maar weet pa sou hom inkatrol.”

Die grootste les wat hy by sy pa geleer het onthou Eugene goed. “A leopard never changes its spots, sou hy altyd sê. En dis iets waarin ek vandag nog glo.”

Vir die familie was die heengaan van dié groot gees ‘n groot slag.

Abie Cooper se kinders, Anita en Eugene.

“Al het ons mekaar min gesien, mis ek hom steeds elke dag, dis ‘n hartseer wat maar moeilik is om te verwerk. Hoewel hy laat in sy lewe weer op sy voete moes kom, het hy ons kinders deur die skool gesit en gesorg dat ons ‘n toekoms het. Hy het darem die voorreg gehad om sy kleinkinders te sien. Matthew was eintlik soos ‘n eie kind vir hom terwyl Cayce bietjie ver was so hy het haar net so af en toe gesien maar hy was lief vir elkeen van ons.”

Eugene voeg by dat Oom Abie ‘n vol lewe gelei het en alles gedoen het wat hy wou of kon.

“Hy wou nooit in ‘n ouetehuis of ‘n hospitaal doodgaan nie, maar wou in sy eie huis wees tot die einde. Hy het altyd vir ons gesê hy wil nie vir altyd lewe nie, en dat hy baie graag by my ma wou wees wat al ‘n hele klompie jare terug oorlede is. Nou kan sy wens waar word,” het Eugene afgesluit.

Die Bosveld Wedrenklub het dit goedgedink om verlede naweek ‘n laaste huldeblyk te bring aan Oom Abie, wat ‘n jarelange ondersteuner en renjaer by die klub was. (Sien storie op die agterblad).

Kleinseun Matthew Cooper by Oupa Abie se wedrenkar.

Die renjaers het met hul renmotors langs die baan in gelid parkeer, terwyl oom Abie se kleinseun, Matthew, die voorreg gehad het om sy oupa se renmotor rondom sy ma, Anita en oom, Eugene te ‘drift’, terwyl wit ballonne in die lug vrygelaat is.

Na ‘n minuut se stilte is toesprake gelewer en ‘n spesiale liedjie is gespeel.

Oom Abie word oorleef deur sy twee kinders en kleinkinders.

Sy begrafnisdiens is reeds vroeg in Maart gehou.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Review in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button